Sepiegids: Doodsengel kuier in Arendsvlei

‘n Skermgreep uit ‘Arendsvlei’.

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy nou weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Binnelanders

Weekdae om 19:30 op kykNET
Maandag 11 Julie
Conrad soek antwoorde en daar is ʼn ongemaklikheid tussen Uys en Liam. At is nie onder ʼn kalkoen uitgebroei nie, terwyl Tertius al weer agterdogtig is oor die sabotasie.

Dinsdag 12 Julie
Aandele is nie die enigste ding wat vir Annelize hartseer maak nie. Delia rig ʼn uitnodiging aan Conrad. Annelize ontvang ʼn oproep van Dawid, terwyl At ʼn eerlike gesprek met Steve het.

Woensdag 13 Julie
Gaby verwoord haar vrese teenoor Rian, en Conrad dink At se varkies is nie op hok nie. Louis en Naomi is oorgehaal om hul eie stempel af te druk. ʼn Besoeker aan Chiron verras Delia.

Donderdag 14 Julie
Annelize doen ʼn ontdekking wat haar laat glo sy sit nie die pot mis nie. Zee gee vir Gaby haar toetsuitslae, terwyl dit duidelik raak dat Naomi en Louis verby mekaar praat.

Vrydag 15 Julie
Louis se frustrasie met Naomi kook oor na Zee en Danny. Rian maak ʼn voorstel om Gaby se siel vrede te gee. Delia kan dalk die antwoorde uit At kry waarna almal smag.

Suidooster

Weekdae om 18:30 op kykNET en kykNET&kie
Maandag 11 Julie
Bridgette is diep ontsteld wanneer sy hoor dat Tim en Zoe probeer versoen. Ryno is gefrustreerd met Elana wat Maggie se ambisies aanvuur.

Dinsdag 12 Julie
Bridgette neem standpunt in oor Tim en Zoe, terwyl Elana met Ryno koppe stamp. Angie kry moeilikheid en Ty moet ʼn ongemaklike gesprek met sy seun hê.

Woensdag 13 Julie
Bridgette hou by haar ultimatum en Zoe is by ʼn keerpunt. Wade besef Angie is ernstig oor saamintrek, terwyl Maggie tussen haar man en haar droom moet kies.

Donderdag 14 Julie
Zoe is steeds geskok ná sy uit die huis geskop is, maar gaan Bridgette van plan verander? Ty is woedend oor Wade se nuutste plan. Elana doen haar bes om Maggie tuis te laat voel.

Vrydag 15 Julie
Rhafiek hoop hy vind die regte oomblik om iets baie belangrik te doen, terwyl Elana dit geniet om pop te speel. Intussen wag Bridgette angstig op Zoe se antwoord.

Getroud met rugby

Weekdae om 18:00 op kykNET
Maandag 11 Julie
Fafa is in ʼn motorongeluk betrokke. Nesie moet op Candice se knoppie druk. Die dames ontmoet Kristien se nuwe afrigter, Chris Fourie.

Dinsdag 12 Julie
Nesie besef ouerskap is nie maklik nie. Fafa se skuldgevoel oor die ongeluk vreet aan hom. Kristien se selfverdedigingsklas kry nuwe lede by.

Woensdag 13 Julie
Maryke is bekommerd oor Fafa. Amanda gee aandag aan die spanning tussen haar en Bibi. Nog meer vroue daag vir die selfverdedigingsklas op.

Donderdag 14 Julie
Maryke is ongelukkig omdat Fafa vir Emile se hospitalisasie wil betaal. Nesie ontmoet Petro se au pair. Riana voel skuldig.

Vrydag 15 Julie
Jana vind uit van die soen. Jordan en Zappa groet die Stryders. Fafa dring daarop aan om vir Emile se hospitaalkoste te betaal.

Arendsvlei

Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie
Maandag 11 Julie
Debra stel Mortlocks bekend en Ingrid maak ʼn ongenooide verskyning. Bianca probeer baie hard om Thys se aandag te trek, maar hy sien dit nie raak nie.

Dinsdag 12 Julie
Iemand in die Arendsvlei-gemeenskap sterf, maar vertel eers ʼn belangrike geheim vir Debra. Eva word al meer bekommerd oor Angel, terwyl Bianca sukkel om ʼn deurbraak met Thys te maak.

Woensdag 13 Julie
Almal rou oor die sterfte in Arendsvlei, maar Ingrid veral is stukkend omdat sy ʼn geliefde verloor het. Debra sukkel om die groot geheim te verwerk en praat met Janice daaroor.

Donderdag 14 Julie
Lionel dink dis beter dat Janice en Debra nie die nuus met die Cupido’s deel nie. Ezra het ʼn groot dilemma wat die Mnr. en Mej. Arendsvlei-funksie by die skool betref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.