Sepiegids: Elise het ʼn sekere boer in haar visier in ‘Binnelanders’; Gio wil nie landuit gaan in ’Arendsvlei’ nie

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Elise het ‘n sekere boer in haar visier in “Binnelanders”. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 8 Januarie

Karen voel sy word onregverdig behandel, en Steve is nie te vinde daarvoor dat daar by hom witvoetjie gesoek word nie. Tracy is vasberade om haar soektog voort te sit.

Dinsdag 9 Januarie

Conrad en Nicolette werk op Steve se senuwees, en Elise is terug – maar dinge het intussen baie verander. Tracy is kwaad oor haar soektog, maar Tertius stel haar gerus.

Woensdag 10 Januarie

Elise vind uit van Karen en Liam, en Tracy wag op hete kole vir ʼn antwoord. Steve is nie haastig om vir ʼn sekere prosedure te gaan nie.

Donderdag, 11 Januarie

ʼn Verkeerde pasiënt word byna teater toe gestuur, en Naomi oorreed Karen om iets nuut te probeer. Vicky kom vroeër huis toe om Steve te verras, en iets gebeur met Nicolette.

Vrydag 12 Januarie

Nicolette weier dat Steve naby haar kom, en Karen is woedend wanneer sy uitvind Liam het met Tertius oor haar gepraat. Elise het ʼn sekere boer in haar visier.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 8 Januarie

Mymoena is in ʼn tweestryd oor Nazeem en Laylla, terwyl die oorlog tussen Rhafiek en Zoë eskaleer. Ty sit twee en twee bymekaar.

Dinsdag 9 Januarie

Kate weier om die waarheid te aanvaar, terwyl Bridgette besluit om vir haar ma by die buurtwag in te staan. Nazeem sit sy beste voet voor wanneer hy by Laylla en die Samsodiens gaan kuier.

Woensdag 10 Januarie

Zoë is boos wanneer Rhafiek weer ʼn gelukskoot tref, terwyl die Samsodiens angstig is oor Laylla se pos by JPD.

Donderdag 11 Januarie

Zoë is vasbeslote om Rhafiek te oortref met verkope, terwyl Carlo se plan met Moira se katte selfs beter uitwerk as wat hy gehoop het. Laylla se eerste dag by JPD verloop nie soos sy verwag het nie.

Vrydag 12 Januarie

Zoë het ʼn waaghalsige plan vir haar nuwe bemarkingstrategie, terwyl Bianca stoei met haar nuwe verantwoordelikhede. Nazeem en Laylla het ʼn romantiese afspraak, maar gaan iemand dit in die wiele ry?

  • Suidooster se voorskou was teen die tyd van publikasie nie beskikbaar nie.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 8 Januarie

Die gevolge van ʼn skandaal is moeilik om te beheer, en Sanet gooi olie op die vuur wanneer sy raad probeer gee. Die Joy Boys hou konsert by Lettie se kafee.

Dinsdag 9 Januarie

Die Joy Boys geniet die nadraai van ʼn vertoning. Anja deel hartverskeurende nuus met Karla. Sandra vind uit waarom Zelda oor haar pad gestuur is.

Woensdag, 10 Januarie

Dit is ʼn dag van hartseer herinneringe vir die Swarts-familie. Rossouw en Anja sukkel albei met hul eensaamheid, en Zelda ontdek ʼn nuwe, interessante kant van Sandra.

Donderdag 11 Januarie

Zelda maak ʼn baie interessante ontdekking, terwyl Johan en Jacques kragte saamsnoer om Rossouw te probeer opbeur. Nina raak baie geïrriteerd met Gys se aksies.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 8 Januarie

Abigail se woede kom na vore in Clint se afwesigheid. Emile se hart word gebreek, en Janice herbou vertroue in haar gemeenskap.

Dinsdag 9 Januarie

Emile besluit om nie vir sy broer te sê hoe hy oor Tereska voel nie. Beatrice se wêreld stort ineen nadat Kyle met nuus by haar huis opdaag. Janice vind uiteindelik die pad na Desmond Galant toe.

Woensdag 10 Januarie

Beatrice ontferm haar oor Abigail. Spanning loop hoog soos Lionel worstel met die ontstellende invloed wat die Galants op Janice het. Emile besef sy toekoms het onherroeplik verander.

Donderdag 11 Januarie

Almal is bekommerd oor Desmond en Janice se interaksies en hoe hy haar manipuleer. Gio wil nie Botswana toe gaan nie en dit lei tot baie konflik. Christopher let op dat dinge tussen Emile en Tereska verander het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ore ·

Hierdie sepies se storielyne raak nou vervelig en afgesaag. Veral Binnelanders. Mens kyk dit om bietjie te ontlaai want meeste programme is heruitsendings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.