Sepiegids: Rian verras vir Koos in ‘Binnelanders’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ’n voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Chané Grobler verskyn vandeesweek in ‘Binnelanders’. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 14 November

Die vonke spat tydens ’n eerste ontmoeting. Rian het ’n verrassing vir Koos, en ’n hysbak is die onderwerp vir ’n diep gesprek. Conrad dink Steve is die regte kandidaat vir ’n uitdaging.

Dinsdag 15 November

’n Afluisterapparaat en ’n identiteit kan moeilikheid veroorsaak. Ruan val oor sy woorde oor Steve se pasiënt, en Zee en Liam soek antwoorde. Steve is nie gekant teen ’n flankeerdery nie.

Woensdag 16 November

Liam kan nie sy tong beheer nie, en nuus op sosiale media lei tot ’n heksejag. Steve dink hy weet waarin Ieva belangstel, terwyl Zee bekommerd is oor ’n nuwe dokter.

Donderdag 17 November

Liam wend hom tot ’n dosent vir antwoorde, en Delia kry ’n verrassende uitnodiging. Jeremy en Ieva het ’n interessante eerste ontmoeting, en Zee en Karen moet kopskuiwe probeer maak.

Vrydag 18 November

Jeremy let iets vreemds op in Amoret tydens die dinee, en Zee stel Steve aan Nicolette voor. Die vorige aand se passie moet gedefinieer word, en Bonnie probeer red wat daar te redde is.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 14 November

Zoe maak dit baie duidelik hoe sy voel. Elana moet haar ma groet sonder dat hulle veel vordering gemaak het en Kaashifa kry Junaid baie jammer.

Dinsdag 15 November

Daar is groot konflik in die gemeenskap, terwyl Siya en Junaid koppe stamp. AB worstel steeds met sy aftrede, terwyl Nelia regmaak met almal voor sy na haar leë huis terugkeer.

Woensdag 16 November

Speurder Malherbe het snuf in die neus oor een van Ruiterbosch se inwoners, terwyl Elana planne maak vir Anker. AB frustreer vir Mymoena en Carlo draai ’n paar vroue om sy pinkie.

Donderdag 17 November

’n Koerantberig het die hele Ruiterbosch op hol. Lee-Ann kom agter hoe Carlo op mense se gevoel speel en Justin bied sy dienste as DJ vir Elana aan.

Vrydag 18 November

Justin probeer desperaat om ’n kontrak by Anker te kry, en Mymoena is raadop met AB wat aanhoudend op uitstappies wil gaan. Chris ontdek ontstellende inligting.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 14 November

Lydia sien Anja vir die eerste keer in 20 jaar. Gys het nuus vir Meghan oor haar onderneming. Lettie wil Henry se verlore St. Christopher opspoor.

Dinsdag 15 November

Dis vir Anja moeilik om  ’n paartjie saam te sien, terwyl Sanet en Rossouw uiteenlopende gedagtes het oor die kuiergas. Lettie gee vir Henry die verkeerde St. Christopher.

Woensdag 16 November

Sanet is ontsteld oor Rossouw se aksies, en Zelda vind uit wie die kontrak gekry het. Bybie hou niks van Pam se mooimaaksessie nie.

Donderdag 17 November

Iemand ontdek Zelda se geheim oor haar siekte. Sanet wil onmiddellik emigreer en Nina kry vir Johan terug.

Arendsvlei

Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 14 November

Bianca het ’n oplossing vir Beatrice se krisis. Hein rol sy moue op en Zuleika is vasgevang tussen haar dogters en haar man.

Dinsdag 15 November

Beatrice se versoek om verlof te neem word goedgekeur en ’n ou kennis wat uit die bloute opdaag, dompel Hein se wêreld onderstebo.

Woensdag 16 November

Beatrice verlaat Arendsvlei vir haar plaasvakansie. Petra maak ’n gemene skuif teen Hein, terwyl Thabied uitvind Zuleika sien nog vir Janice en Ayesha.

Donderdag 17 November

Beatrice het ’n lekker tyd saam met Theo en hy waag ’n kans om sy gevoelens vir haar duidelik te maak. Lionel, Ayesha en Janice maak gereed vir die kunsmatige bevrugting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.