Skrywersduo Louis, Albert gee lewe aan Afrikaanse TV-skatkis

Louis Pretorius en Albert Snyman. (Foto: Verskaf)

Al leef die draaiboekskrywers en vervaardigers Louis Pretorius en Albert Snyman buite die kollig, is talle fiktiewe karakters wat hulle oor die afgelope dekade geskep het welbekend in Afrikaanse huishoudings oor die land heen.

Dink maar aan Tom (Armand Aucamp) en Sofia (June van Merch) van Die Boekklub, wie se deernisvolle verhouding op Merweville harte aangegryp het, en Dolf (Charlton George) en Getrude (Elana Afrika-Bredenkamp) van Fynskrif, wie se onverwagse liefdesverhouding kykers laat koer het.

Wat van Fraksie se ongenaakbare en sjarmante Schalk (Edwin van der Walt) en die groep karakters wat gesorg het vir twee boeiende seisoene van Die Boland Moorde?

Om lewe aan dié karakters te gee verg egter beplanning en deursettingsvermoë, vertel Pretorius en Snyman vanuit die Kaap, waar albei woonagtig is.

“Louis is die een wat bloei oor die tikmasjien,” sê Snyman, wat onder meer Die Boland Moorde en die werklikheidsreeks Plaasjapie gekonseptualiseer het.

Veteraan-aktrise Jana Cilliers is in 2018 met ‘n Safta-prys vereer vir ‘Die Boekklub 2’. (Foto: Facebook/Saftas)

Die room van die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf is betrokke by die vervaardiging van die reekse en bekende akteurs soos Tinarie van Wyk Loots, Neels van Jaarsveld, Chris van Niekerk, Nicole Holm, Christia Visser, Susanne Beyers, Marcel van Heerden, Trix Viviers, Lee-Anne van Rooi, Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse verskyn in die onderskeie rolle wat so noukeurig deur Pretorius en Snyman geskep word.

Hoewel hulle deesdae meestal via Zoom-sessies stories skryf, het hulle voor die pandemie lang ure met liters koffie en baie sigarette op Pretorius se stoep in Stellenbosch deurgebring om die een ná die ander episode van reekse soos Die Boekklub en Fynskrif te ontwikkel.

“Soms het ons die grasperk van Louis se erf uitgetrap soos wat ons kou en herkou aan ʼn idee. Dit lei daartoe dat ons ure lank oor die lewe gesels wanneer ons hierdie karakters skep.”

Pretorius en Snyman het destyds saam aan die sepie Binnelanders gewerk en kort daarna het hulle saam aan Die Boland Moorde gewerk.

“Ons is gelukkig om saam met ʼn ongelooflik talentvolle span mense te werk. Soms is dit ʼn uitdaging om gelyktydig te skryf en vervaardig, maar ons het uiteindelik ons ritme gevind. Ons fokus hoofsaaklik op drama, maar het ook al aan werklikheidsreekse gewerk.”

Volgens Pretorius is Kompleks een van die mees persoonlike stories wat hy tot dusver geskryf het.

“Die idee vir Kompleks se storie het uit ʼn baie persoonlike plek ontstaan, maar die karakters is altyd wesens op hul eie. Selfs Die Boekklub se karakters is nie geskoei op egte mense van Merweville nie, maar die storie het die essensie van daardie Karoo-wêreld so mooi vasgevang.

Louis Pretorius is hier saam met Albert Snyman tydens die verfilming van ‘Die Boekklub’ se tweede seisoen. (Foto: Verskaf)

“Ons put inspirasie uit die tipe mense wat ons ken, maar ons probeer om karakters te verwyder van die werklikheid terwyl ons hulle steeds eg wil hou.”

Daarom doen hulle ure lank navorsing oor die onderwerpe en temas waaroor die onderskeie reekse handel en maak ook gebruik van konsultante wat in spesifieke velde spesialiseer.

“Veral Louis is baie erg daaroor dat die stories so na aan die werklikheid moet wees, al is dit fiktief,” voeg Snyman by.

“Ja,” beaam Pretorius, “ek het byvoorbeeld op YouTube na ʼn hartoperasie gekyk sodat ek vir Die Boekklub kon skryf oor Anna (Jana Cilliers) se harttoestand. Deeglike navorsing en tegniese korrektheid is uiters belangrik.”

Fraksie, wat in Stellenbosch afspeel en hoofsaaklik handel oor die ongenaakbare sakewêreld en die ontwikkeling van ʼn app in die sakekern van dié dorp, is tans in ʼn 17 episode lange eerste seisoen op kykNET te sien.

Fraksie volg die hoofkarakter Schalk Smit, ʼn beleggingsbestuurder met drome om eendag ʼn dollar-miljoenêr te word.

Die rolverdeling van ‘Fraksie’.

Hy is getroud met Nina (Roeline Daneel), wie se ma, Deidré (Hélène Truter), baie ryk is. Nina se pa, Willem (André Jacobs), is ʼn onkoloog en haar suster, Bianca (Daneel van der Walt), ʼn narkotiseur. Schalk en Nina het twee tienerkinders, Zac (Alex van Dyk) en Mari (Jana Malan).

Die reeks word uitstekend deur gehore ontvang, maar Pretorius sonder Die Boekklub uit as sy gunstelingreeks uit sy eie pen.

Toe kykNET in 2011 ʼn tender vir dramas uitstuur, het hy ʼn konsep vir Die Boekklub voorgelê wat eers afgekeur is voor dit in 2013 aanvaar is en daarna het Pretorius in 2014 byna ʼn jaar lank aan die reeks geskryf.

“Dit is die storie en karakters waarvoor ek die liefste is. Ek weet ʼn mens moet al jou kinders ewe lief hê, maar ek sal Die Boekklub ʼn bietjie voortrek. Dit is die eerste reeks wat ek self gekonseptualiseer en geskryf het en dit bly ʼn magiese projek. Ek glo ons het grense daarmee verskuif.”

Louis Pretorius en Albert Snyman. (Foto: Verskaf)

Die skrywersduo is dit eens dat hulle dit geniet as ʼn reeks by kykers aanklank vind en mense raak, terwyl dit hulle ook hoop gee en vermaak.

“Ons is uiteraard al gewoond aan die proses vandat die karakters op papier geskep word totdat hulle op die kassie gestalte kry, maar ons raak nooit blasé daaroor nie. Dit bly ʼn geweldige voorreg om stories vir mense te vertel en positiewe terugvoer is altyd welkom.”

Volgens Snyman is dit opwindend wanneer ʼn reeks gestalte kry sodra die tekste afgehandel is.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe die regisseur, akteurs, kostuum- en rekwisietedepartemente deel word van die storie en die wêreld wat jy geskep het, lewe gee.”

Fraksie is elke Dinsdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien en word ook op DStv CatchUp uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.