Stromingsreus byna ʼn miljoen kykers kwyt

Foto ter illustrasie. (Foto: Souvik Banerjee / Unsplash)

Dit blyk dat die stroomdiens Netflix se kykergetalle weens strawwe mededinging en hoë lewenskoste bly daal.

Die platform het Dinsdag in sy verdiensteverslag bekendgemaak dat hy tussen April en Julie vanjaar sowat 970 000 betalende kliënte verloor het en gevolglik met slegs 221 miljoen intekenare wêreldwyd sit.

AFP berig dat die stroomdiens egter volgens sy verdiensteverslag verwag het om soveel as twee miljoen betaalde intekenare te verloor, maar ook om ʼn miljoen in die huidige kwartaal te by te kry.

Dit is die tweede agtereenvolgende kwartaal wat die voormalige koning van stroomdienste ʼn geweldige getal kykers kwyt is, maar die maatskappy het beleggers verseker dat beter dae voorlê.

Kenners meen egter hoewel Netflix-aandele ook effens gestyg het, dié resultate steeds kommerwekkend is.

Ontleder Ross Benes sê die stroomdiens sal ook meer reekse met ʼn wyer aanklank moet vind of skep om met kragdadige mededingers soos Disney, wat sy Marvel- en Star Wars-franchises het, te kompeteer. Hy voeg by dat benewens die wêreldwye lewenskostekrisis die stelselmatige terugkeer van pre-pandemie gewoontes dit ook moeilik maak om nuwe kykers te lok.

Reed Hastings, Netflix se stigter en medehoof, het in sy verdienste-aanbieding gesê hoewel dit moeilik is om byna ʼn miljoen kykers te verloor, die platform “regtig baie goed opgestel is vir die volgende jaar”.

Volgens Hastings was trefferprogramme soos die Suid-Koreaanse reeks Squid Game en die onlangse aflewering van Stranger Things die diens se reddingsboei.

Dié reeks se vierde seisoen het gesorg vir 1,3 miljard kykure in net vier weke, wat dit die platform se grootste Engelstalige televisie-uitreiking nóg maak.

Intussen werk die stromingsreus ook saam met Microsoft om ʼn goedkoper intekenplan bekend te stel wat advertensies insluit, wat moontlik teen die einde van hierdie jaar bekendgestel kan word.

Maroela Media het ook onlangs berig dat Netflix ʼn stokkie wil steek voor rekeninghouers wat hul wagwoorde met mense buite hul huishoudings deel, met moontlike boetes wat aan hierdie soort oortreders uitgedeel gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jacob ·

Volgens internasionale media wat alreeds gons oor Netflix die afgelope paar maande, is een van die hoofredes waarom Netflix soveel intekenare verloor, as gevolg van ‘n ver-linkse benadering wat gevolg is. Vulgêre programme en reekse het amper die norm geraak en sogenaamde “diversiteit” is in kykers se kele afgedruk. Om die tendens van verlies aan intekenare om te swaai het Netflix dit onomonde aan sy sogenaamde “woke” werknemers gestel dat die maatskappy ‘n meer konserwatiewe benadering sal volg en die wat nie daarmee saamstem nie, ‘n ander heenkome moet soek. Klassieke geval van “go woke, go broke”.

Cherokee ·

‘n Persentasie van die kykers wat hulle verloor het is Afrikaanssprekendes.

Nommer 7 ·

…ook Engels-, Spaanse-, Russiese-, Duitse-, Hollandse-, Italiaanse-, Griekse- en Turkse sprekendes.

Witbaard ·

Net soos Covidgetalle KLINK dit baie erg, maar dis skaars 0,5 % van intekenare. So Netflix voel eintlik ‘n veer.

quartus ·

AS HULLE ADVERTENSIES GAAN INSLUIT GAAN HULLE NOG MEER KYKERS VERLOOR WANT MENSE HOU NIE JUIS DAARVAN OM NA ADVERTENSIES TE KYK NIE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.