‘Suidooster’ groet sepiegunsteling

Cedwyn Joel groet ‘Suidooster’. (Foto: verskaf)

Getroue kykers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, moes Woensdagaand van ’n geliefde karakter, AB Samsodien (vertolk deur Cedwyn Joel), afskeid neem.

Dié 69-jarige akteur het reeds in Februarie vanjaar sy laaste toneel by Suidooster verfilm, en die span moes versigtig wees om dié nuus nie te verklap nie.

Hy het die moeilike besluit geneem om die sepie te groet sodat hy meer tyd sou hê om ander projekte aan te pak en tyd saam met sy gesin deur te bring.

Cedwyn is al sedert 2015 deel van dié bekende Kaapse sepie en het deur die jare heen kykers vermaak, geskok en hul liefde gewen. Sy karakter het in 2020 kykers se oë laat rek in die omstrede poligamie-storielyn, waar AB volgens Moslem-tradisie vir Farah (Lee-Ann van Rooi) as sy tweede vrou geneem het.

“Oor ek ’n Moslemkarakter vertolk het, het Suidooster my ’n beter begrip van ander kulture gegee.

Nie net het dit vir my ’n beter insig en waardering oor Molsemtradisies gegee nie, maar ook gehelp om kykers daaroor op te voed,” sê Cedwyn oor sy storielyne in die sepie.

Cedwyn se karakter is voor sy vrou, Mymoena (vertolk deur Jill Levenberg), in ’n sluipmoordvoorval noodlottig gewond.

Die afgelope maande moes Suidooster-aanhangers toekyk hoe AB se stiefdogter, Bianca (Simone Biscombe), weer met Dirk (Evan Hengst) ’n verhouding aanknoop nadat hy haar verlede jaar in die sepie se spannende nier-sage-storielyn ontvoer het. Hul verhouding het vinnig ernstig geword en in Maandag se episode sou hulle in die huwelik bevestig word.

AB het onverwags sy verskyning by die troue gemaak, hoewel hy aanvanklik dit ten sterkste veroordeel het. ʼn Skerpskutterkoeël wat vir Dirk bedoel was, het AB per ongelyk getref toe Rhafiek (Irshaad Ally) en Nazeem (Irvine Jacobs) die moordenaar op heterdaad betrap het.

Cedwyn het ʼn onskatbare waarde tot die sepie gelewer, meen Wilmer Müller, publisteitsbestuurder by Suidooster.

“Ons was baie bevoorreg toe Cedwyn in 2015 ingestem het om een van Suidooster se hoofkarakters te wees, want hy was immers toe reeds een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde akteurs.

“Die afgelope agt jaar was sy karakter nie net ’n groot trekpleister vir die sepie nie, maar het AB Samsodien ’n huishoudelike naam geword.

“Die hele span, voor en agter die skerms, het so baie by Cedwyn geleer, terwyl sy vriendelikheid, nederigheid en professionaliteit benydenswaardig is,” sê Wilmer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.