‘Survivor’ se Nicole wil stereotipes as Mej. SA help bestry

Nicole Eksteen. (Foto: Delicate Photography/Verskaf)

Nicole Eksteen is goed bewus van die stereotipiese boksies waarin die samelewing haar nog haar hele lewe lank probeer plaas; dié van ʼn “klein, blonde poppie”.

Maar of sy nou taai uitdagings in tekkies op die strande van Survivor trotseer, of in hakke op die uitdunrondtes van die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie pronk, wil dié vurige blondekop aanhou om oppervlakkige beelde wat aan vroue vaskleef, af te breek.

Sy wil boonop vir Suid-Afrikaners herinner dat klein botteltjies groot gif kan bevat.

“Ek voel ons as vroue is so veerkragtig en veelsydig en het baie meer diepte as net ons voorkoms. Een van my grootste doelwitte is om daardie boodskap uit te straal,” vertel sy aan Maroela Media oor haar plek onder die top-30 finaliste in vanjaar se Mej. SA-kompetisie.

Nicole, wat in Januarie vanjaar die jawoord aan haar man, Ryno Eksteen, gegee het, maak ook geskiedenis as een van twee getroude finaliste wat vir die eerste keer in aanmerking vir die Mej. SA-titel kan kom nadat die kompetisie hul deelnamereëls in 2022 aangepas het.

“Toe die reëls verander het om ma’s en getroude vroue toe te laat, het ek geweet dat ek weer moet probeer. Natuurlik sal mense só ʼn verandering kritiseer, maar dit gee ons nou die kans om ʼn Mej. SA te hê wat meer verteenwoordigend is van die algemene vrou en waarmee meer mense kan vereenselwig. Dit is nie genoeg om ʼn mooi, 20-jarige gesiggie met min lewenservaring te wees nie.”

Die teleurstelling wat gepaard gaan met groot drome soos dié najaag, ken Nicole goed.

Nicole beskryf ‘Survivor’ as die uitdagendste ervaring van haar lewe. (Foto: Verskaf)

Sy het reeds in 2021 haar naam in die hoed vir Mej. SA gegooi en nie verder as die top-30 gevaar nie.

In dieselfde jaar het sy egter R1 miljoen in haar sak gesteek as die wenner van Survivor SA: Immunity Island, iets waarvoor sy ook drie keer moes inskryf voordat sy suksesvol was.

Daarom, glo sy, het dit haar nou die nodige selfvertroue gee om Mej. SA aan te pak.

“Ek is glad nie senuweeagtig nie. Ek geniet uitdagings en ná 39 dae op Survivor voel ek asof ek enigiets kan doen. Dit was werklik die moeilikste tyd van my lewe, maar ek het geleer dat waar ʼn mens gewoonlik in jouself begin twyfel as dit moeilik raak, jy dan juis moet besef dat uitdagings jou karakter help vorm.”

Sy voeg by dit iets soos Survivor veral ʼn kwesbare ervaring vir vroue is.

“Ek is nou veral ewe gemaklik om in die bos met ʼn skoon gesig te baljaar as wat ek dit geniet om myself mooi te maak en grimering te dra. Ek wil veral vir vroue laat besef dat diepte belangriker is as voorkoms, en dat jy jou drome móét najaag om getrou aan jouself te bly.”

Nicole wil stereotipes takel met haar Mej. SA-reis. (Foto: Delicate Photography/Verskaf)

As ʼn selferkende realis, is sy ook voorbereid sou haar Mej. SA-droom weer kortgeknip word.

“Ek glo vas dat God dinge op jou pad sit wat bedoel is vir jou, en as hierdie nie vir my bedoel is nie, aanvaar ek dit so. Ek weet net dat ek is hierdie keer baie meer gerus in myself is en 100% weet wat my boodskap as Mej. SA sal wees.”

Nicole, wat tans as projekbestuurder van Creatory, ʼn bemarking- en ontwerpagentskap wat in die Paarl gebaseer is, werk, glo ook dat dit belangrik is om ʼn gemeenskap te kweek wat op meer as materialistiese welvaart fokus.

“Daar is deesdae soveel eksterne en oppervlakkige faktore wat ons as mense beïnvloed en veroorsaak dat ons met ons identiteite sukkel. Vir my gaan dit nie oor wat jy in die lewe het of gekry het nie, maar wat jy daarvan maak.”

Sy wil mense ook aanspoor om nie mislukking te vrees nie, maar dit eerder te gebruik om hulle in die lewe aan te spoor.

“Die Mej. SA-titel is net joune vir ʼn jaar, en al kan ek net een vrou in daardie 365 dae inspireer, sal dit vir my  ʼn reusevoorreg wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.