
Jozaan en Stephan du Preez het by die gesogte Smitsfield-venue naby Chrissiesmeer in Mpumalanga getrou. (Foto: Jozaan Digue/Instagram)
Jozaan Digue, die blondekop-skoonheid wat in 2019 aan die gewilde M-Net-program, The Bachelor, deelgeneem het, is die naweek getroud.
Jozaan en Stephan du Preez het by die gesogte Smitsfield-venue naby Chrissiesmeer in Mpumalanga voor die kansel gestaan.
Die voormalige TV-ster het ʼn paar pragtige troufoto’s met haar sowat 30 000 volgelinge op Instagram gedeel.
Sy het in 2020 ʼn foto van haar en Stephan op Instagram gedeel waarin hulle ooglopend smoorverlief is en daarby geskryf: “Jy is die beste ding wat ek nooit beplan het nie.”
Stephan het op 30 Desember verlede jaar in Praag in die Tsjeggiese Republiek op sy knie neergesak en die jawoord gevra.
“Ons het op ‘vir ewig’ besluit,” het Jozaan agterna op Instagram by ʼn foto van die paartjie geskryf.
Kykers sal onthou dat Jozaan, ʼn prokureur van Centurion, in die slotepisode van die seisoen met ʼn stukkende hart huis toe gestuur is nadat Lee Thompson sy finale roos vir die grimeerkunstenaar Gina Meyers gegee het.