TV-aanbieder se rubriek oor Meghan Markle was ‘seksisties’

Die voormalige Top Gear-aanbieder, Jeremy Clarkson. (Foto: Stefan Heunis/AFP)

ʼn Britse mediawaghond het bevind dat die voormalige Top Gear-aanbieder, Jeremy Clarkson se rubriek oor Meghan Markle, die hertogin van Sussex, “seksisties” was.

Clarkson het in Desember verlede jaar in reaksie op prins Harry en Meghan Markle se opspraakwekkende Netflix-dokumentêrereeks geskryf dat hy gedroom het van die dag wanneer die hertogin “naak deur die strate van elke dorp in Brittanje moet paradeer terwyl die skare ‘shame!’ sing en ontlasting na haar kant toe gooi”.

Dié kontroversiële rubriek, wat in die Britse koerant The Sun gepubliseer is, het ʼn golf van protes ontketen en nagenoeg 25 000 klagtes het by die Independent Press Standards Organisation (Ipso) ingestroom.

Volgens Ipso is dit die berig waaroor daar nog die meeste klagtes ooit ingestuur is.

Dié mediawaghond het bevind dat Clarkson se rubriek klousule 12 van die Britse persreguleerder se redaksionele praktykkode, wat met diskriminasie verband hou, oortree het.

Volgens Ipso se bevinding versprei rubrieke soos dié van Clarkson ook “gevaarlike samesweringsteorieë en vrouehaat”.

Die beeldspraak was “vernederend teenoor die hertogin”, het Lord Faulks, Ipso-voorsitter, aan die BBC gesê.

Die waghond het egter klagtes dat dié rubriek “onakkuraat, rassisties of teisterend” was, van die hand gewys.

The Sun is ook opdrag gegee om ʼn opsomming van die mediawaghond se bevindings te publiseer op dieselfde blad waar Clarkson se rubriek in die gedrukte uitgawe verskyn. Hul bevinding moes ook vir 24 uur lank op die tuisblad van The Sun se webblad verskyn.

Dít, ondanks die feit dat Clarkson se rubriek reeds van The Sun se webblad en argiewe verwyder is.

Meghan Markle, die hertogin van Sussex. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Clarkson het kort ná die verwydering van sy rubriek ʼn lang plasing op sosiale gemaak waarin hy om verskoning vra en erken het dat hy sy rubriek aan The Sun gestuur het sonder om dit aan enigiemand voor te lees.

“Ek verafsku geweld teen vroue,” het hy bygevoeg en toegegee dat die rubriek “gelyk het asof ek juis daarvoor gepleit het”.

Die aanbieder voer aan dat hy in sy rubriek na ʼn toneel uit die Game of Thrones-reeks verwys het, maar vergeet het om dit te spesifiseer.

AFP berig dat die 62-jarige televisiepersoonlikheid op Kersdag verlede jaar aan die hertog en hertogin persoonlik per e-pos om verskoning gevra het.

Dit is nog nie bekend of Ipso se beslissing ʼn impak op Clarkson se ooreenkomste met die stromingsdiens Amazon Prime sal hê nie.

Clarkson en sy voormalige Top Gear-medeaanbieders, James May en Richard Hammond, bied nou ʼn soortgelyke program vir Amazon aan nadat die Top Gear-vervaardigers Clarkson in 2015 die trekpas gegee het.

Sy dokumentêre reeks oor boerdery, Clarkson’s Farm, is ook tans een van Amazon Prime se gewildste programme.

Bronne: BBC, Variety, AFP, Deadline.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.