Nuwe ‘Harry & Meghan’-lokprent deurspek met spanning, drama

Prins Harry en Meghan Markle se nuwe reeks is eersdags op Netflix te sien. (Foto: Skermgreep/Netflix)

Enige moontlikhede van ʼn koninklike versoening word behoorlik verpletter deur die dramatiese nuwe lokprent vir prins Harry en Meghan, die hertog en hertogin van Sussex, se Netflix-dokumentêr getiteld Harry & Meghan.

Die eerste volume (episodes 1 tot 3) van dié langverwagte dokumentêre reeks sal Donderdag 8 Desember op Netflix beskikbaar wees, maar kykers sal tot 15 Desember moet wag vir die tweede volume (episodes 4 tot 6).

ʼn Ernstige prins Harry vertel in die lokprent hoe hy vreesbevange was dat “die geskiedenis homself sou herhaal” terwyl paparazzifoto’s van sy ontslape ma, prinses Diana, en sy skoonsuster, Kate, prinses van Wallis, op die skerm flits.

Die hertog beskryf die koninklike egpaar se media-ervaring as ʼn “vuil speletjie” wat “pyn en lyding bring vir vroue wat in hierdie instelling trou”.

Prins Harry lyk mismoedig in ‘n skoot uit die nuwe lokprent. (Foto: Skermgreep/Netflix)

Meghan hou klaarblyklik ook nie terug nie en sê daar het ʼn tyd gekom dat sy besef het “hulle gaan jou nooit beskerm nie”.

Hoewel hy nie name in die lokprent noem nie, beweer ook Harry dat sekere aantygings destyds doelbewus teen sy vrou in die media gemaak is. “Daar is stories wat uitgelek is, maar óók party wat geplant is,” sê hy vir die kamera.

Volgens die hertog is dit nou “moeilik om daarna terug te kyk en te gaan; wat op aarde het gebeur?”

Een kenner voeg kortliks by dat “haat en rassisme” ook ter sprake was, met moontlike verwysing na die manier waarop daar veral in Britse media oor die Amerikaanse hertogin berig is.

Dié nuwe lokprent volg nadat ʼn kort lusmaker op 1 Desember bekendgestel is en word deur koninklike kenners as “die verkondiging van ʼn oorlog teen die koninklikes” verklaar.

Maroela Media het vroeër berig dié sogenaamde “ongekende” dokumentêre reeks verken die omvang van die bekende paartjie se verhouding – van die vroeë dae van hul hofmakery tot die uitdagings wat hulle later aangespoor het om van die Britse koninklike familie afstand te doen.

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, meen die paartjie vertel vir die eerste self hul eie verhaal. (Foto: Skermgreep/YouTube)

In die eerste lusmaker flits talle persoonlike foto’s van die hertog en hertogin wat ook nog nooit vantevore deur lede van die publiek gesien is nie, waaronder hul huweliksonthaal, asook informele foto’s van die paartjie in hul huis. Een foto wys selfs hoe Meghan mismoedig op ʼn bank sit en huil.

Tóg het sy in ʼn vorige onderhoud met Variety gesê dat Harry & Meghan in sy kern ʼn “liefdesverhaal” is.

Die hertogin het in dieselfde onderhoud erken dat sy en prins Harry opgewonde is om dié dokumentêre reeks met mense te deel, “al beteken dit dalk nie dit is soos ons dit sou vertel het nie”.

Bronne: Netflix, Vogue, Variety.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Burgermeester ·

Ek haat dit om te sê, maar wie gee om wat hulle doen? Die koninklikes gee nie om wat in my lewe aangaan nie, so hoekom moet ek vir hulle jammer voel oor hul eie selfgemaakte probleme? Ek lees liewers ‘n boek.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hulle moet nou skep. Oor twee jaar stel niemand belang nie.

Annelize ·

Jammer, maar hulle het dit aan hulle self gedoen.

Ipv die private stil lewe wat hulle wou gehad het, gebruik hulle elke moontlike geleentheid, hoe gering of belaglik ookal, om in die nuus te wees. Partykeer is stilbly ‘n opsie, maar nie vir die twee nie. Hulle gaan hulle self nog vernietig.

Harry meen kort kort sy ma sou trots gewees het op hom. Ek dink eerder sy draai in haar graf. Al het dit hoe septies tussen haar en Charles en die Koninklike familie gegaan, het sy nooit maar nooit so laag gedaal om hulle in die openbaar te beswadder nie.

Gerra ·

Daar is reeds bewyse dat van die vreeslike “gejag” deur fotograwe en media toe al die tyd fotos is van hofsake van heeltemal ander mense en gebeure.
Hehee….En die omkyk van hoe hulle gevolg word en toe is daar skaars 1 voertuig!
Leuens sluk tog so lekker en maklik….

kommentaar ·

Ai ou Meghan, wanneer gaan jy einde kry? En Harry, jy moes lankal begin hardloop het.

Henk ·

Harry is nie Charles se kind nie en is dus nie ‘n koninklike nie. Markle het gedink sy word ‘n koningin as sy met Harry trou. Wake-up call vir altwee.

Diklizzy ·

Hulle is regte drama-lama’s! Wie laat dan nou foto van jou neem as jy so vreeslik sit en huil? Goeie aktrise dalk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.