Twis tussen ‘WildEarth’, MultiChoice duur voort

(Foto: WildEarth/Facebook)

WildEarth, wat jare lank op DStv-kanaal 183 te sien was, het vroeër vandeesmaand bekend gemaak dat hulle paaie met MultiChoice binnekort gaan skei.

Dié besluit kom nadat die kanaal glo ʼn jaar lank, sonder enige sukses, probeer het om MultiChoice se geldelike ondersteuning in te win.

WildEarth is ʼn kanaal wat daagliks regstreeks uitsaai om kykers ʼn smaak van die Suid-Afrikaanse natuurlewe te gee, met sowat 7 miljoen kykers wat maandeliks wêreldwyd vir dié kanaal se inhoud inskakel.

“Ons het die saak gestel dat deur geen betaling vir ons inhoud te ontvang nie onvolhoubaar is vir ons, maar wonderlik vir hulle,” skryf André Crawford-Brunt, voorsitter van WildEarth.

“Ons het herhaaldelik benadruk hoe ʼn groot rol ons in opvoeding, bewaring en toerisme speel.”

Hy voer verder aan dat WildEarth oor ʼn groot en passievolle kykerstal beskik en dat die kanaal die grootste vervaardiger van plaaslike inhoud in die land is.

Sowat 12 000 kykers het tot dusver ʼn petisie geteken om MultiChoice te oorreed om “die regte ding”, soos wat Brunt daarna verwys, te doen.

“Dit is dieselfde kykers wat meer as R5 miljoen in minder as 72 uur geskenk het om ons tyd op die lug te verleng. Dit gee ons tyd om ʼn borg en vennoot te vind om ons op ʼn meer volhoubare staanplek te plaas.”

Volgens Brunt het die kanaal sowat 1,5 miljoen kykers, met talle ondersteunersbladsye op sosiale media wat die kanaal se inhoud daagliks deel.

“MultiChoice moet die duisende kommentare op die petisie en sosiale media lees. Baie van die mense wat kommentaar gelewer het, het al gesê die enigste rede waarom hulle nog ʼn DStv-intekenaar is, is as gevolg van WildEarth.”

Brunt meen dat WildEarth al die eienskappe omarm waarvoor MultiChoice staan.

“Ons stories word geskep deur Suid-Afrikaners, nie groot, multinasionale konglomerate wat tegniese spanne hierheen stuur om stories in Afrika te skiet en dit bloot aan ons terugverkoop nie.”

Hy glo die twis wat tans tussen die kanaal en MultiChoice heers nie net weens ʼn gebrek aan ondersteuning is nie, maar ook omdat sekere “waardes vergeet is in die gejaag na uitbreiding”.

“Ons besluit om vir onsself op te staan mag ons dalk laat sneuwel, of dit kan veroorsaak dat iemand besef hoe waardevol, belangrik en groot ons beweging is en dat hulle as onderneming met ons verbind wil word.

“Eindelik moet WildEarth en MultiChoice vennote wees. Ons missies is op papier perfek belyn. Iets het egter langs die pad verlore geraak. Kom ons hoop ons vind dit voordat dit te laat is.”

Maroela Media het na MultiChoice uitgereik vir kommentaar, maar wag nog vir terugvoer.

  • Vir meer inligting oor WildEarth besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet 6 ·

Multichoice is besig om homself te sluit. Kyk maar hoeveel kykers hule verloor, daar word nou al van miljoene gepraat. Laat mens dink aan SABC, kanaal 183 met meer as ń miljoen kykers is nie belangrik vir die “magtige” Multichoice nie

Hulle weier om na enige raad te luister en volg net hulle eie kop. Kyk hoe gaan kykNET die laaste tyd agteruit, so kan mens voortgaan. Programme begin gedurig laat, glad nie meer soos in die begin toe M-NET begin het en trots was dat hulle programme altyd op tyd begin het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Waarskynlik begin die hoë kostes vir uitsaairegte van sport sy tol eis. Dink mos ons is ‘n hoë inkomste land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.