Tyrone Keogh terug in SA, skitter in twee plaaslike TV-reekse

Ty Keogh vertolk die rol van ʼn afgetrede branderplankryer, Gavin Field, in M-Net se nuwe reeks “Summertide”. (Foto: M-Net)

Deur Martjie Roos

Die 41-jarige akteur Tyrone Keogh, of Ty soos hy alombekend staan, het die afgelope tien jaar tussen die Wes-Kaap en Engeland gependel, maar is nou vir ʼn onbeperkte tyd terug in sy heimat en werk sedert verlede jaar weer volstoom voor die TV-kameras.

kykNET-kykers sien Ty Dinsdagaande as die profileerder, kaptein Willam Barker, in die vyfde seisoen van die speurreeks Die Byl en hy is ook van Sondag 28 Januarie as die afgetrede professionele branderplankryer Gavin Field in M-Net se dramareeks Summertide te sien.

Daar het baie water in die see geloop sedert ons Ty as die sexy, stout seun natuurbewaarder Jack van Reenen in M-Net se reeks The Wild in 2011 gesien het. Ty is in 2016 met die Britse aktrise Shivaani Ghai getroud en hulle het ʼn seuntjie Kaian wat in 2022 gebore is. “Ek en Shivaani het op die stel van die internasionale rolprent Dominion, waarin ons albei gespeel het, ontmoet. Ons trek maar soos die swaeltjies na die Kaap of Londen waar ons werk ons neem. Ons het ʼn klein woonstel in noord-Londen en ʼn huis in Kommetjie in die Kaap. Shivaani is tans heeltyds ma terwyl ek die pot aan die kook hou,” skerts hy. “Ek was bevoorreg om verlede jaar ʼn rol in Die Byl sowel as ʼn rol in Summertide los te slaan. Nadat ons verlede jaar klaar is met Die Byl, het ek net ʼn blaaskans van vier weke gehad voordat ek in Augustus op die reeks Summertide begin verfilm het. Ons verfilm om en by tot in Julie aan die reeks wat uit 52 episodes bestaan en wat in die Wes-Kaap geskiet word.”

Sy karakter William Barker in Die Byl verskil hemelsbreed van Gavin Field in Summertide, vertel hy. “William is die nuwe lid van die speurspan nadat kaptein Lena Evans (Lika Berning) bedank het. Hy is ʼn ernstige ou met ʼn donker verlede en ʼn paar demone wat hy moet beveg.”

Ty speel die rol van die ondersoekbeampte William Barker in kykNET se spannende misdaadreeks, “Die Byl”. (Foto: kykNET)

Hy voeg by dit was glad nie moeilik om as ʼn inkommer by Die Byl in te val en saam met akteurs soos Lika, Waldemar Schultz (kolonel Piet van der Bijl), Milan Murray (advokaat Nicki Swanepoel) en Marvin Lee Beukes (kaptein Juan Stuurman) wat reeds vier seisoene van Die Byl agter die blad het, te speel nie. “Die Byl-span is ʼn geoliede span met knap regisseurs en akteurs, en William is ʼn volronde karakter wat dit vir my maklik as die nuweling gemaak het.”

Gavin in Summertide is wel baie anders as William. “Hy is ʼn prettige karakter en sorgeloos. Hy het ʼn groot deel van sy lewe branderplank gery, het nou sy eie onderneming wat branderplanke verkoop en woon nou in ʼn kothuis by sy ouers. Ek kan in ʼn mate baie goed met Gavin identifiseer want ek het in Noordhoek in die Kaap grootgeword en ek het gereeld branderplank gery.”

Die drie generasies van die Field-familie in “Summertide”. (Foto: M-Net)

Die verhaal van Summertide wentel om drie generasies van die Field-familie. André Jacobs is die patriarg. Jack Field, ʼn afgetrede vlootbevelvoerder en sy vrou Wilma, ʼn tuisteskepper wat glo die man dra altyd die kroon, word vertolk deur Terry Norton. Sy seun Martin (Frank Rautenbach) is ʼn marine-bioloog en ʼn wewenaar en die protagonis in die storie. Martin se broer Gavin is die swartskaap in die familie en sy verbintenis met ʼn sjef Rebecca (Monique Rockman) noop hom om keuses in sy lewe te maak en sy kwessies oor verbintenis aan te spreek. Dit is ʼn groot aanpassing vir Jack en Wilma wanneer hulle twee kleinkinders Lucy (Evangelina Hallock) en Tristan (Jan Combrinck) onder hul dak en vlerk kom woon ná hulle ma Julia (Amalia Uys) se afsterwe.

Ty bieg dat hy nooit regtig daarvan hou om homself op televisie te sien nie. “Ek het wel anders gevoel nadat ons die eerste episode van Summertide gesien het, want ek kon nie wag om die volgende episodes te sien nie. Ek dink die reeks is goeie gesinsvermaak omdat dit oor drie geslagte gaan. Die teks is uitstaande, die akteurs is almal professioneel en die regisseurs, René en Corné van Rooyen, hou die leisels styf vas,” vertel hy. “Ons verfilm boonop op die mooiste plekke in die wonderskone Kaap. Gelukkig het die weer, wat soms wisselvallig in die Kaap kan wees, tot dusver goed saamgespeel.”

Omdat Summertide oor soveel episodes afspeel gee dit hom genoeg tyd om “sy tande behoorlik in sy karakter in te slaan,” sê hy. “Ek is mal oor Suid-Afrikaanse televisie en dit is vir my ʼn voorreg om elke dag werk toe te gaan en nuwe stories te skep – en my karakter elke dag beter te leer ken.” Die aantreklike akteur, wat in 2011 as die Bachelor of the Year en in 2012 as die bes geklede man in Suid-Afrika aangewys is, sê hy het tot dusver net ondersteunende rolle in rolprente en TV-reekse gespeel. “Ek slyp my tande om eendag daardie groot hoofrol te vertolk en om te sien of ek die knoop as akteur sowel as persoon kan deurhaak om die hele storie as hoofkarakter op my skouers te ‘dra.’ Ek sal ook graag in ʼn aksiebelaaide rolprent of reeks wil speel.”

(Foto: kykNET)

Sy wederhelf Shivaani ondersteun hom baie in sy loopbaan. “Ek is baie geseënd om so ʼn wonderlike vrou en die pragtigste seuntjie te hê. En soos hulle sê: ‘happy wife, happy life’.” Hy het nog nie nuwe projekte na Summertide in die pyplyn nie. “Ek dink wanneer die reeks klaar verfilm is, is dit weer my beurt om ʼn tuisbly-pappa vir Kaian te wees en my vrou se beurt om dan die pot aan die kook te hou,” skerts hy.

Ty se pa Danny Keogh wat in reekse soos Known Gods naam gemaak het en in 2019 oorlede is, was ʼn gesoute en bekwame akteur. “My pa se afsterwe was ʼn groot verlies,” vertel hy. Daar was nooit regtig sprake dat mense gesê het hy is in sy pa se skaduwee nie. “Die feit dat my pa so ʼn goeie akteur was, het my nog altyd gemotiveer om myself net meer en meer te bewys,” vertel hy.

  • Die vyfde seisoen van Die Byl word Dinsdagaande om 20:00 op kykNET uitgesaai en Summertide word Sondagaande om 18:00 op M-Net uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.