Verliefde ‘BSV’-paartjies hou saam vakansie

Boer Francois en Vanessa is duidelik verlief. (Foto: kykNET)

Boer Francois, die volstruisboer van Oudtshoorn in die Wes-Kaap, en die donkerkop Vanessa het in Donderdagaand se episode van Boer soek ʼn vrou laat blyk dat hulle smoorverlief is.

Francois en Vanessa het saam met die res van die deelnemers aan seisoen 15 van dié gewilde reeks by die Ilita Lodge in Groot-Brak naby Mosselbaai vakansie gehou.

Hulle het ook aan verskillende aktiwiteite deelgeneem, soos reksprong en spoedbootvaarte.

Francois was die afgelope week in die nuus nadat dit aan die lig gekom het dat hy in Desember 2013 aangekla is van aanranding.

Louis B en Rachie het geen geheim daarvan gemaak dat hulle verlief is nie en het erken hulle is in ‘n verhouding. (Foto: kykNET)

Die ander boere het egter op die vakansie gespot dat Vanessa se liefde Francois jare jonger laat lyk.

“Ek het intussen ʼn bokbaardjie bygekry en is heel verbaas met almal wat vir my sê ek lyk jonger as wat ek voorheen gelyk het,” het Francois gelag.

Boer Philru het sonder die skugter Lané by die boere se vakansie opgedaag terwyl boer Louis M nié saam met Anja opgedaag het nie, maar wel saam met ʼn ander donkerkop-nooi.

“Aanvanklik was dit moeilik om alleen hier op te daag, maar almal het my gehelp om in te pas. Lané is ʼn baie oulike meisie, maar ek het net nie iets gevoel nie,” het Philru gesê.

Hy het verklap dat hy verlief is op ʼn ander meisie wat hy op sosiale media ontmoet het. “Ek moet sê dit gaan goed.” Dié meisie kon egter nie die vakansie meemaak nie.

Boer Louis het saam met Johanrie opgedaag. Hy het haar tydens die blitsafsprake ontmoet. (Foto: kykNET)

Boer Louis M het wel met ʼn donkerkop-nooi aan sy sy opgedaag, maar dit was nie Anja – by wie se ouers hy in die vorige episode in die Kaap gekuier het – nie.

Johanrie, die meisie saam met wie hy opgedaag het in Mosselbaai, is een van die vroue wat hy aan die begin van die seisoen tydens die blitsafsprake in die Kaap ontmoet het.

“Ek het vir Anja gekies en ek is nie vir ʼn oomblik spyt nie. Ons het spesiale tye saam gehad, maar soos wat dinge gevorder het, het ek te veel druk van buite ervaar om ʼn trouvrou te vind.”

Boer Louis B en Rachie het saam opgedaag en het duidelik die skoot hoog deur. Terwyl hulle baie speels met mekaar is, het hulle ook ernstige toekomsplanne bespreek.

“Ek gaan jou nie weer by die huis aflaai nie. Jou tasse gaan saam met my plaas toe,” het Louis skertsend vir Rachie gesê.

Hennie en Eloïse is ernstig oor mekaar, maar nog nie in ‘n vaste verhouding nie. (Foto: kykNET)

Hennie en Eloïse het ook gedurende die vakansie baie verlief gelyk, al het Eloïse verklap dat Hennie haar nog nie amptelik uitgevra het nie.

“Ek dink ek is nog geneig om ʼn bietjie terug te hou en nie dadelik in ʼn verhouding te spring nie. As ek commit gaan ek voluit. Ek is te bang om voluit te gaan en iemand in die proses seer te maak.

“Ons al twee het die gevoel en ons gaan nog steeds moeite maak, ongeag of ons in ʼn verhouding is of nie. Dis waar ons staan op die oomblik, tyd is belangrik.”

Die laaste episode van Boer soek ʼn vrou saai volgende Donderdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uit. Die hele seisoen is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.