Video: ‘Ek is spyt oor niks’, sê ‘RHOPTA’ se Mel Viljoen

Mel Viljoen. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Rian van Heerden, vervaardiger van die kykNET-werklikheidsprogram Die Real Housewives van Pretoria, meen miskien dat Mel Viljoen die mees omstrede karakter van die reeks is wat die meeste kommentaar op sosiale media ontlok, maar sy wat Mel is, wil net ʼn rolmodel vir jong meisies wees.

Mel het kort voor die verfilming van die reünie-episodes van dié werklikheidsreeks, wat die kollig op ses skatryk inwoners van Pretoria plaas, aan Maroela Media gesê sy steur haar nie aan die hordes sosialemediagroepe waar sy en die ander vyf huisvroue, Renske Lammerding, Marié Bosman, Talana Kuhn, Kiki La Coco en Rhona Erasmus, ná afloop van elke episode uitmekaar geskeur word nie.

Dit is egter die honderde boodskappe van jong meisies wat sê dat hulle na haar en haar mede-Housewives opkyk wat haar aandag trek, sê sy waar sy in haar man se kantoor by die hoofkantoor van hulle sakeonderneming sit.

“My vraag is: Wat is die kritikus se kwalifikasies en wil ek my nou steur aan wat hulle van my dink? Al wat vir my saak maak, is die jong meisies wat mal is oor die Housewives. Vir hulle is dit die coolste program ooit en ons is hulle rolmodelle.

“Ek kry boodskappe van meisies wat vir my sê hulle is bly om te sien dis reg om op te staan vir jouself, want hulle word geboelie. Ek kry gereeld terugvoer van die meisies oor hoe dit met hulle gaan. Ek is baie interaktief met die jongmense.”

Mel is egter nie ʼn katjie wat jy sonder handskoene pak nie en op die TV-program is dié blondekop-deelnemer se naels soms selfs nog skerper as dié waaraan sy daagliks as eienaar van Tammy Taylor Nails South Africa vyl.

Mel en haar man, Peet Viljoen. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ʼn “Ongenaakbare sakevrou” is sy gewis nie, skerm sy gou, maar sy het ongetwyfeld ʼn passie vir die sakeonderneming wat sy al jare lank saam met haar man, Peet Viljoen, bedryf.

“Jy sien in die program ʼn kant van my wat nogal feisty is, maar ek is net bekkig en op die agtervoet as ek moet wees. Ek dink wel die program kry dit reg om my persoonlikheid reg vas te vang en hoe dit uitgesaai word, voldoen aan my verwagtinge.

“Ek is spyt oor niks in my lewe nie. Ek dink dit help my.”

Sy vertel dat ander reekse van die Real Housewives-franchises haar ook genader het om aan hulle programme deel te neem, maar dat sy gekies het om deel van kykNET en Provoco se Pretoriase reeks te wees.

“Ek het nog nooit ʼn ander Real Housewives-reeks enduit gekyk nie, aangesien ek nie iemand is wat hou van televisie kyk nie. Ek stel baie belang in selfverbetering en lees eerder ʼn boek of luister na ʼn podsending wat my slimmer en beter kan maak.”

Sy vertel laggend dat sy gespot word oor haar liefde vir swart klere en dat sy selfs by die huis swart nagklere dra.

“Ek is mal oor wit, swart en salmpienk en jy sal my in een van daardie kleure by die huis kry, gemaklik in nagklere. Ek hou egter my grimering aan tot voor ek gaan slaap, so Mel by die huis lyk steeds glamorous tot voor slaaptyd,” lag sy.

  • Kyk hier na Maroela Media se volledige video-onderhoud met Mel Viljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

RS ·

Neewat… nie die woord rolmodel werd nie. Bla bla bla is al wat ek hoor. Jy leer die jonges verkeerd.

Nommer 7 ·

As ek na Mel luister, het ek en almal wat ek ken, ons/hul dogters swak opgevoed en swak maniere geleer.

Marina ·

Rolmodel? Nee oo hel sy het dan niks goeds te sê oor enigiemand nie!

Lizelle ·

Oh genade nou het ek als gehoor. Rolmodel? Nee wat dankie

domheks ·

Sy is soooooo vol van haarself – sy kom nie eers agter sy is swak gemanierd nie! Red ‘n volk met so ‘n rolmodel! Hahahhaaaa

Erik ·

Ek vermoed sy het, aangesien dit Housewives is, die drama bietjie aangeroer. Sonder haar, sou dit maar vervelig gewees het. Ek dink sy is eintlik ‘n goeie mens, en verseker hoogs intelligent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.