Video: SA Jeugkoor ‘hoort in finaal’, sê Simon Cowell

Die Ndlovu Youth Choir (Skermgreep uit die video)

Die gevreesde America’s Got Talent-beoordelaar, Simon Cowell, het ná afloop van Suid-Afrika se Ndlovu Youth Choir se optrede in die semifinaal van dié televisiereeks gesê hy dink dié koor hoort in die finaal.

Die Ndlovu Youth Choir is op almal in Suid-Afrika én Amerika se lippe nadat hulle vroeër vanjaar vir ʼn oudisie gegaan het om aan die Amerikaanse weergawe van hierdie bekende talentsoekkompetisie deel te neem.

Dié koor, wat gevestig is in ʼn klein nedersetting in Limpopo, het met hul eerste oudisie die beoordelaars se monde laat oophang en is sedertdien ʼn gehoorgunsteling. Hulle het reeds deurgedring na die semifinale ronde waarin hulle ʼn verwerking van Whitney Houston se “Higher Love” opgevoer het.

Tydens hul vertoning het die gehoor en die beoordelaars saamgedans en hande geklap. Al vier beoordelaars, Cowell, Julianne Hough, Gabrielle Union en Howie Mandel, het positiewe terugvoer vir dié groep jongmense gegee.

“Julle is die trots van Suid-Afrika én die trots van die res van die wêreld. Dit wat julle doen, is so inspirerend en roerend. Ek is só trots op julle,” het Union gesê terwyl sy haar trane weggesluk het.

Hough het die koor geprys vir hul voorbeeld van “globale inklusiwiteit”.

Ralf Schmitt saam met van die koor se lede (Foto: Facebook)

“Julle bied meer as waarvoor ons ooit kon hoop of droom. Julle straal liefde uit; julle het ons almal op ons voete gehad! Ek is mal oor julle!” het sy gesê.

Mandel het gesê daar is net een woord vir hul optrede en dít is “pragtig”. “Julle klink pragtig, julle lyk pragtig, en kyk net na hoe die gehoor en beoordelaars se gesigte lyk!” het hy gesê.

Dit was egter Cowell se terugvoer wat die gehoor op hul voete gehad het.

“Vir my was dít jul beste optrede nóg. Dit was van ʼn baie hoër gehalte as vantevore. Ek was mal oor alles daarin.

“Selfs wanneer ek julle agter die verhoog sien, is julle die vriendelikste en mees opgewonde groep mense wat ons in jare op die program gehad het. Julle verdien régtig ʼn plek in die finaal ná ʼn optrede soos dié,” het hy gesê.

Nou hang dit van die Amerikaanse publiek af om te stem wie hulle in die eindronde wil sien. Die mense wat na die finaal deurdring, sal vanaand aangekondig word. Die finale ronde van America’s Got Talent 2019 sal op 17 en 18 September op die kassie te sien wees.

Die wenners sal wegstap met $1 miljoen en ʼn kans om by Planet Hollywood Resort & Casino in Las Vegas op te tree.

“Ons bid dat ons optrede die wêreld herinner het dat ons almal verbind is deur ons gees en menslikheid,” het Ndlovu Youth Choir op hul Facebook-blad geskryf.

Die koor is afkomstig van die Moutse-nedersetting in Limpopo en word afgerig deur Ralf Schmitt. Al die koorlede kom uit armoedige omstandighede. Baie van hulle se ouers is oorlede en hulle moet self na hul sibbe omsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JOHAN ·

Baie mooi. Hoop hulle wen. Ek glo daar is nog baie meer sulke jong mense met ‘n positiewe gesindheid. Ons moet hulle net vind.

Liza ·

Ek kyk na hierdie program en hierdie kinders is so so talentvol, hulle is pragtig en ons land kan trots wees op hulle……. mooi gedoen julle en sterkte vorentoe……….julle is puik……

Patch ·

Kry sommer hoendervleis. Het hierdie koor by ‘n funksie sien optree en hulle het die mense op hul voete gehad na hul optrede. Hulle is briljant. Baie geluk Ralf wat jy en hierdie jongmense bereik het en dankie dat jy uit jou pad gaan vir hulle. Baie sterkte verder met die kompetisie. Ek hou styf duim vas vir julle.

Jacky ·

Dis FANTASTIES MOOI! Suid Afrika kan baie trots wees om so n koor te hê.

Willem ·

Hoe is dit AMERICA’S Got Talent as hulle van Afrika af kom?

Alwyna ·

Enige persoon of groep mag deelneem. Een van die ander finaliste is n groep dansers van die Oekraïene

Boer ·

Ons hét talentvolle mense. Baie. Jammer dat magshonger nie plek het vir positiewe ontwikkeling van almal se talente tot voordeel van almal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.