Video: Skreeusnaakse braai-advertensie het land aan gons

Die versekeringsreus King Price Insurance het die ganse land aan die skater met nóg ʼn eg-Suid-Afrikaanse advertensie wat die lagspiere prikkel, en dié keer fokus dit op een van Suid-Afrikaners se gunsteling-tydverdrywe – braai.

Dié splinternuwe advertensie wat volg op die suksesvolle “Do something sexy to a tractor”- en “Kettle lobola”-advertensie, handel oor ʼn motoris en ʼn verkeersbeampte wat ʼn gebroke gesprek voer oor die verskillende opvattings omtrent Braaidag en sinspeel op ʼn humoristiese wyse oor die woord “bribe”.

Die advertensie is kort voor Erfenisdag, ook bekend as Braaidag, wat vanjaar op Maandag 24 September gevier word, uitgereik.

Dit is die derde in ʼn reeks advertensies met die tema “When others don’t make sense, we do”, wat lig gooi op die feit dat King Price Insurance die enigste versekeraar is wat kliënte se motorpremies laat afneem in lyn met die motor se dalende waarde.

Volgens Natalie Bisset, hoof van bemarking vir King Price, het die maatskappy ʼn doelbewuste besluit geneem om advertensies te skep wat van humor gebruik maak om aan te dui dat baie dinge in vandag se wêreld nie sin maak nie.

“Dit maak nie sin om elke maand meer te betaal om iets te verseker wat elke maand minder werd is nie. Binne slegs ses jaar het King Price Insurance Suid-Afrikaners meer as R100 miljoen in verminderde premies gespaar, en dit maak sin in enige aksent,” sê Bisset.

Soos die vorige twee advertensies is die braai-advertenise deur Bennie Fourie en Bouwer Bosch van Freckle Creative gekonsepsualiseer.

“Op Erfenisdag behoort ons die dinge wat ons byeen bring as ʼn nasie te vier. Een van daardie goed is ons vermoë as Suid-Afrikaners om vir onsself te lag, en ons kollektiewe sin vir humor. Met ons advertensies is ons nie skaam nie. Om vervelig te wees, het mense nog nooit aan die praat gekry nie,” sê Bisset.

#BRAAAAAI!

When others don’t make sense, we do. And we recommend that you #BRAAAAAI!

Posted by King Price Insurance on Friday, September 14, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Piet Pompies ·

Ek ry sommer nou 120km/h in ‘n 100km/h sone net om te kan braai……

Cherokee ·

Teen die prys van Rump, Porterhouse en T-been moet jy liewer 80kmu ry.

Andre ·

Noem my vervelig, noem my net wat jy wil. Maar ek dink al drie hierdie advertensies is uiters kinderagtig. Dit onderskat mens se mentaliteit in lyn met dié van n laerskoolkind. Sulke snert sal my definitief nie noop om van King Price se diens gebruik te maak nie.

Andre ·

Ja Koos, verkramp, dis die regte woord, dis ek. Maar ten minste het my mentaliteit verby graad 2 gevorder. Al is ek verkramp, is ek ten minste volwasse en kan in volwasse geselskap sinvol gesprek voer. Geniet jou advertensie en jou tipe vlak humor. Skater na hartelus, ek gun jou dit.

Piet ·

Probeer jy sê dat díe wat hierdie advertensie humorvol vind onvolwasse is en geen intelligente gesprek kan voer nie?

Anita ·

Daar is min genoeg in hierdie land om oor te lag. Die vlak waartoe die politiek en ekonomie gedaal het, is duidelik ver onder enige standaard. Al wat oorbly, is om soms te lag. Min van ons was nie al in die “bribe” situasie met verkeerskonstabels nie. En die woordspeling in hierdie advertensie is oulik gedoen.

Jozi ·

Ag nee kom nou julle twee…. is dit nodig om so bitter te wees met die lewe saam?
Het julle so gewoond geraak aan al die slegte nuus en negatiwiteit in hierdie ou land van ons dat jul lagspiere die pad gevat het?
Ek geniet hul advertensies. Dis humoristies (ons almal kan doen met ‘n bietjie humor), en dis eg Suid-Afrikaans.
Ek gaan nie noodwendig by hulle aanklop vir versekering nie, maar hul advertensie veldtog is uniek.
Kom ons braai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.