Vyandige familiedrama te sien in nuwe telenovela

‘Jy is my seun’ sal vanaf 20 Maart op die kassie te sien wees. (Foto: Verskaf)

Idilliese landskappe, beeldskone akteurs en hope drama wag op kykNET&kie-kykers in die jongste oorgeklankte Turkse telenovela, Jy is my seun.

Dié nuwe program is van Maandag 20 Maart af op die kassie te sien en dien as plaasvervanger vir die gewilde Kind van die Noodlot, wat ná 148 episodes op 16 Maart tot ʼn einde kom.

Die karakters in Jy is my seun beloof om nes Kind van die noodlot weer kykers vasgenael te hou.

Jy is my seun vertel die verhaal van Akça, ’n prostituut se dogter, wat op die ouderdom van 17 swanger geword het en gedwing is om haar seun, Efe, vir aanneming aan die welgestelde Karasu-familie te gee.

Efe word egter afgeskeep nadat sy aangenome ma, Şule, ’n kind van haar eie kry. Sy biologiese pa, Hasan, is ʼn boosaard en boonop die Karasu’s se aartsvyand.

Hasan word uit die tronk vrygelaat en die eerste ding wat hy doen, is om Akça te gaan soek, dít terwyl Akça self enigiets sal doen om die vyfjarige Efe terug te kry.

Maroela Media het vroeër berig dat Suid-Afrika se uitmuntende oorklankvaardighede die afgelope paar jaar ingespan is om Turkse telenovelas in Afrikaans na die plaaslike skerms te bring.

“Suid-Afrika is gelukkig om ʼn baie ervare oorklankingspan met uitstekende geriewe te hê. Kykers sal verbaas wees oor hoe tegnies en omslagtig die oorklankingsproses is,” het Nicola van Niekerk, hoof van M-Net se teksgedrewe inhoud, voorheen aan Maroela Media gesê.

“Die beeldmateriaal moet van die klankbaan geskei word, alle musiek moet oorgeplaas word, die tekste moet vertaal word, en dan herskryf word om by die akteurs se mondbewegings te pas. Wat wonderlik is, is dat die projekte vir regisseurs, skrywers en stemkunstenaars werk in die bedryf skep.”

Kykers kan ook hulle ore spits vir ʼn paar bekende Afrikaanse stemme wanneer hulle die reekse kyk.

Hiermee die lys van karakters asook die akteurs wat hulle speel én die Suid-Afrikaanse spelers wat vir hulle stemme verantwoordelik is:

  • Efe (vertolk deur Mehmet Emin Guney, Afrikaanse stem deur Zach du Toit) is Akça en Hasan se biologiese seun, maar is deur die welgestelde Šule en Ali Kemal aangeneem.

Efe. (Foto: Verskaf)

  • Akça (vertolk deur Merve Çagiran, Afrikaanse stem deur Claudia Jones) is Efe se biologiese ma. Sy het hom gehad toe sy 17 jaar oud was, maar het vir die pa van die kind, Hasan, en haar ma gesê die kind is by geboorte dood.

Akça. (Foto: Verskaf)

  • Ali Kemal (vertolk deur Serhat Teoman, Afrikaanse stem deur Eddie de Jager) is Asiye se seun, Šule se man en Efe se aangenome pa. Hy glo egter hy is Efe se biologiese pa. Ali Kemal moes op ’n jong ouderdom die man van die huis word aangesien sy pa hulle verlaat het.

Ali Kemal. (Foto: Verskaf)

  • Šule (vertolk deur Ceyda Ates, Afrikaanse stem deur Lizelle Pike) is getroud met Ali Kemal en is Efe se aangenome ma.

Šule. (Foto: Verskaf)

  • Hasan (vertolk deur Ismail Hacioglu, Afrikaanse stem deur Reggie Huffkie) is ’n skurk en is obsessief oor Akça. Hasan is Efe se biologiese pa, maar hy weet dit nie.

Hasan. (Foto: Verskaf)

  • Asiye (vertolk deur Nazan Kesal, Afrikaanse stem deur Susan Coetzer) het drie kinders: Hasan, Ali Kemal en Murat. Ali Kemal en Murat het dieselfde pa, maar sy hou Hasan geheim van almal. Ali Kemal en Murat weet dus nie hulle aartsvyand is hulle broer nie.

Asiye. (Foto: Verskaf)

  • Murat (vertolk deur Kenan Acar, Afrikaanse stem deur Donovan Petersen) is Asiye se jongste seun en is onbewus van al die familie se geheime.

Murat. (Foto: Verskaf)

  • Emine (vertolk deur Nimet Iyigün, Afrikaanse stem deur Natasja Jacobs) is in haar vyftigs en sal enigiets vir geld doen, selfs al is dit om haar dogter, Akça, aan Hasan te verkoop.

Emine. (Foto: Verskaf)

Jy is my seun begin op Maandag 20 Maart om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is van Maandae tot Donderdae te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.