‘Wanderlus 2’ is propvol avonture

Hennie en Nicole Bosman. (Foto: verskaf)

“Ons glo dat jy maklik ’n toeris in jou eie dorp kan wees. Naby aan jou is daar soveel plekke om te sien en soveel dinge om te doen, wat jou nie ’n arm en ’n been gaan kos nie, bygesê.”

Dit is Hennie en Nicole Bosman se filosofie waarvolgens hulle hul reise deur Suid-Afrika aanpak. In die tweede seisoen van die avontuurprogram Wanderlus gaan hulle kykers nooi om saam met hulle die Wes- en Oos-Kaap ordentlik te verken.

“Ons was so geseënd met die eerste seisoen, ons is steeds oorweldig dat dit so goed gedoen het en dat kykers dit soveel geniet het,” vertel Hennie aan Maroela Media.

Die pasgetroude egpaar pak hul episodes vol met heerlike aktiwiteite en talle mooi plekke terwyl hulle heerlike, tuisgemaakte kos geniet.

“Ons sien die heeltyd nuwe dorpies en ontmoet nuwe mense.”

Die entoesiasme waarmee hulle elke avontuur aanpak, vloei nie net deur die program nie, maar ook deur hul persoonlike lewens.

Nicole, wat haarself eintlik as ’n introvert beskou, vertel dat toe sy en Hennie mekaar sowat ’n dekade gelede ontmoet het, haar gees vir avontuur geseëvier het.

Hul eerste afspraak het die grondslag geskep vir die avontuurlustige lewe wat die egpaar vandag lei. Hennie het ’n gedekte tafel, kerslig en romantiese atmosfeer ingeruil vir ’n visvanguitstappie, en Nicole het nie gekla nie.

Hennie, wat in daardie stadium in sy tweede jaar van studie was, het in ’n bakkie met musiek wat dawerend gespeel het, Nicole by die huis opgelaai.

“Tipiese studente,” bieg hy.

“Toe ek weer sien toe is ons by ’n dam, en hier is Hennie in die dam,” voeg Nicole by.

Die paartjie maak sedertdien seker dat hulle gereeld die land verken, nuwe belewenisse najaag en verskillende dele van die lewe ontdek en geniet.

“En selfs al laat die begroting dit nie altyd toe om alles te doen wat ʼn mens sou wou doen nie, is daar maniere om tog avonture tuis te hê,” vertel Hennie.

Hennie en Nicole Bosman saam met hul honde. (Foto: verskaf)

“Ons glo dat jy maklik ’n toeris in jou eie dorp kan wees. Naby aan jou is daar soveel plekke om te sien en soveel dinge om te doen, wat jou nie ’n arm en ’n been gaan kos nie, bygesê.”

“Dit is vir my die heel lekkerste deel om resepte te soek en heerlike kos te maak,” vertel Nicole, wat ook ’n gekwalifiseerde sjef is. Oor dié heerlike deel van die program kla Hennie glad nie.

“Sy is baie kreatief,” sê hy.

“Ek het grootgeword by die see en met seekos, ek val maar altyd terug daarop. Ek is ook vreeslik lief vir visvang, ek deel graag daardie resepte wat ek en Nicole saam uitdink met mense.”

Wanneer die twee nie rondrits in Suid-Afrika nie, is Nicole by haar troubeplanning-onderneming in Franschhoek en Hennie besig met sy bedrywighede as entrepreneur.

  • Wanderlus word op Saterdae om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.