Bedreigde sangvoël ‘verloor sy liedjie’

Regentheuningvreter (Foto: Jss367, eie werk via Wikimedia Commons)

Australië se bedreigde regentheuningvreter is besig om sy liedjie te verloor – ʼn teken dat dié voël uitsterwing nader, waarsku wetenskaplikes wat Woensdag deur nuwe navorsing vrygestel is.

ʼn Skielike afname in die seldsame sangvoël beteken jong voëltjies sukkel om paringsroepe aan te leer soos wat die volwassenes uitsterf, aldus navorsers aan die Australiese Nasionale Universiteit.

Manlike regentheuningvreters het ryk, komplekse deuntjies in dig bevolkte habitatte gesing, maar het elders eenvoudiger deuntjies begin sing, het die wetenskaplikes in ʼn studie gesê wat in die Proceedings of the Royal Society B gepubliseer is.

Hoof-outeur Ross Crates sê die bevindings is “ʼn groot waarskuwingsteken dat die regentheuningvreter op die randjie van uitstorwing is”, en die gebrek aan kennis van die deuntjies verminder ook die kans vir paring.

“Dit kan ook tot ‘n groter afname lei in die regentheuningvreter se getalle, want ons weet ʼn sexy liedjie verhoog die kans op paring in sangvoëls.”

Wetenskaplikes het bevind 18 regentheuningvreters, of sowat 12% van die algehele oorblywende manlike bevolking, kon slegs ander voëls se liedjies sing – en nie hul eie nie.

“Hierdie gebrek aan ʼn vermoë om met hul eie spesie te kommunikeer is ongekend in die natuur,” het mede-outeur Dejan Stojanovic bygevoeg. “Ons kan aanneem dat regentheuningvreters nou só seldsaam is dat sommige jong mannetjies nooit ʼn ouer manlike onderwyser kon vind nie.”

Wetenskaplikes beraam dat daar slegs ʼn paar honderd van die voëls oor is. Die seldsame voël, met sy swart en geel merke, het in ʼn stadium oor die grootste deel van oostelike Australië voorgekom, maar is nou grootliks beperk tot bloekomboomwoude in die suidooste van die land.

Die studie het ook bevind regentheuningvreters wat in aanhouding uitbroei, sing ander liedjies en dit kan hul aantreklikheid vir wilde voëls verminder.

Die wetenskaplikes poog nou om die voëls, in aanhouding, te leer hoe om soos hul eweknieë in die natuur te sing deur oudio-opnames vir hulle te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janee ·

So bitter hartseer……dat daar nou na n “recording” geluister moet word om te leer sing….

SomeOne ·

indien die “recording” leer proses werk, sal dit wonderlik wees, sterkte met die proefneming

Annatjie ·

Sekerlik het hulle sy sang erens op ‘n rekenaar miskien kan hulle dit vir die arme voel speel sodat hy die regte deuntjie kan sing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.