Bly in ʼn igloe, sien die noorderligte!

Een van die igloes waar jy kan oornag (Foto: Antti/AirBnB)

As jy al ooit daarvan gedroom het om onder die noorderligte te slaap, is hierdie dalk jou droomvakansie – as jy bereid is om die koue te trotseer, natuurlik!

Jy kan ʼn dié “sneeu-igloe” in Pelkosenniemi in Lapland, Finland, op AirBnB bespreek teen ongeveer R1 100 per aand.

Volgens die beskrywing op AirBnB is daar regte beddens in die igloe. “Lekker atmosfeer met LED-ligte en wit mure. As jy gelukkig is, sal jy die noorderligte buite sien. Kom na Lapland en verken die wildernis!”

Daar is egter ʼn waarskuwing: dit is altyd minus grade in die igloe. “Ons verskaf ʼn warm slaapsak, maar jy moet jou eie termiese klere, warm hoed, sokkies en handskoene bring. ʼn Koplamp of flitslig kom ook handig te pas. Daar is ʼn warm huis beskikbaar in noodgevalle.”

Die igloe is geleë langs Pyhäjärvi-meer en die Pyhä-Luosto Nasionale Park.

“Dit is ʼn een-keer-in-ʼn-leeftyd-geleentheid om in ʼn sneeu-igloe te slaap wat ons elke winter self bou!”

Elke groep het hul eie igloe (vier persone per igloe). Moenie bekommerd wees nie: as dit te koud is vir jou, is daar ook ʼn huis met toilette, ʼn stort, sitkamer en klein kombuis waarvan gaste enige tyd (dag of nag) gebruik mag maak.

Ryan, wat in Maart 2019 in die igloe oorgeslaap het, was vol lof. “Ons was net daar vir een aand, maar ons was gelukkig om die noorderligte te sien. Dit was absoluut wonderlik.”

Allison het in Februarie oornag. Sy laat weet die gasheer, Antti, het hulle selfs op ʼn slee laat ry met die husky-honde.

Meer inligting beskikbaar op AirBnb se webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ryno ·

Ons het n paar jaar gelede in Lapland gaan “mush”, maar het ongelukkig nie die noorderligte gesien nie, dalk omdat dit volmaan was.

KrokodilBotha ·

Sutherland is nader, ook meer sterre. As jy nou gekleerde hemel wil sien gaan disco toe. Dankie tog dis nou lente. Brrrr nee dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.