Boer byt terug toe krokodil hom gryp

Argieffoto (Foto: Siggy Nowak / Pixabay)

ʼn Boer van Australië het ternouernood oorleef toe ʼn soutwaterkrokodil van 3,2 meter lank hom gegryp het.

Colin Devereaux, in sy 60’s, boer met beeste in die noorde van Australië. Hy is onlangs ontslaan ná hy byna ʼn maand lank in die hospitaal herstel het ná die voorval by die Finnissrivier, berig ABC Australia.

Devereaux het gesê hy het visse opgemerk wat in ʼn poel water agtergebly het ná die rivier teruggetrek het. Die krokodil het hom aan sy regtervoet gegryp toe hy van die visse wou vang.

“Hy het my in ʼn stewige greep gehad en my soos ʼn lappop geskud. Hy het in die water terugbeweeg en my ingetrek,” vertel Devereaux.

Hy het eers probeer om die krokodil in die ribbes te skop, maar toe sy selfverdediging opgeskerp.

“Ek was in ʼn ongemaklike posisie, maar my tande het per ongeluk sy ooglid gegryp. Dit was dik, soos leer, maar ek het sy ooglid weggetrek en toe het hy my gelos.”

Devereaux kon vlug, maar die krokodil was nog op sy spoor. Toe hy by sy voertuig gekom het, het die krokodil uiteindelik sy jaagtog laat vaar.

Hy kon die bloeding in sy been met ʼn handdoek en tou stop, en sy broer het toe 130 km met hom na ʼn hospitaal toe gery.

Hy het ʼn veloorplanting en ander behandeling ontvang.

Volgens Devereaux het die hele voorval slegs sowat agt sekondes lank geduur.

Hy sê die voorval beteken hy sal in die vervolg dinge anders moet doen. “Ek loop al te lank in die moeras rond om heinings reg te maak en ʼn bestaan te voer, maar die voorval het my oë oopgemaak,” het hy aan ABC bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.