Branderplankryer-otter ontwyk vangers

Skermgreep uit die video (Video: @NativeSantaCruz/Twitter)

ʼn See-otter wat in die VSA aandag getrek het oor haar unieke vermoë om branderplanke van branderplankryers te steel en dan op die planke te spring, ontwyk steeds vangers, berig die Los Angeles Times.

Natuurbewaarders van Kalifornië het verlede week die otter se tuiste met ʼn boot besoek en ʼn branderplank in die water geplaas as ʼn lokmiddel. Die otter het vinnig op die plank gespring, maar sodra die beamptes die plank wou terugsleep na die boot, het sy afgespring en weggeswem.

Owerhede hoop om die dier te hervestig voor sy, of ʼn branderplankryer, beseer word.

Daar is vroeër berig hoe die otter die branderplankryers nader en hulle van hul planke af dwing – sy het selfs aan van hulle geknaag.

“Dit lyk oulik, maar dit is glad nie,” het Mark Woodward op Twitter geskryf. “Hierdie otter is baie aggressief.”

Die Guardian het berig hy het foto’s geneem van plaaslike otters wat mense al ʼn paar weke lank teister. Saam met sy plasing was verskeie foto’s van Otter 841, soos sy genoem word, op iemand se branderplank. “Hierdie see-otter was baie aggressief en die branderplankryer moes uiteindelik sy plank laat vaar en na die strand toe swem.”

Woodward het onlangs ʼn video gedeel van ʼn branderplankryer wat poog om die vyfjarige otter teen te staan, maar die otter is selfs nie eers afgeskrik toe die branderplankryer die plank omgeslaan het nie.

Volgens NBC News teister Otter 841 branderplankryers al maande lank, maar volgens die New York Times is sy al ʼn paar jaar lank betrokke in vreemde voorvalle met branderplankryers.

Dit het begin met ʼn voorval in 2021 toe sy op ʼn boot geklim het. Alhoewel see-otters gewoonlik mense probeer vermy, het hierdie otter al hoe meer vermetel geraak, berig die koerant. Volgens die koerant word soortgelyke voorvalle met wyfie- otters verbind met ʼn toename in hormone of wanneer hulle te gewoond geraak het aan mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kommentaar ·

Sit n tipe anker aan n plank en gee vir die otter haar eie Permanente plank

Sandra ·

Ek weet dit lyk of sy gevaarlik is, maar miskien hou sy net van die gevoel as sy bo op die branderplank is, of sy hou van die kleure.

W ·

Orkas val deesdae seilbote aan, nou wonder ek of die seediere nie dalk besluit het om reg in eie hande te neem om hul habitat te beskerm ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.