Duurste kaasbroodjie kos byna R4 000

Die Quintessential Grilled Cheese (Foto: Serendipity 3/Instagram)

Die wêreld se duurste toebroodjie, ʼn geroosterde kaasbroodjie van $214 (byna R4 000) is op nasionale geroosterdekaasdag (12 April) by ʼn restaurant in New York te koop.

Die restaurant, Serendipity 3, sê die Quintessential Grilled Cheese sal vir ʼn kort rukkie lank op sy spyskaart beskikbaar wees. Dié restaurant is bekend vir sy luukse konkoksies.

“Ons bring weer nóg ʼn Guinness-wêreldrekord-happie terug vir ʼn beperkte tydperk,” het die restaurant op sosiale media laat weet.

Die broodjie word gemaak met dik snye seldsame Caciocavallo Podolicokaas, wat in die suide van Italië vervaardig word van melk van podolicakoeie. Dié koeie wei vrylopend en vreet skerp aromatiese grasse soos vinkel, soethout, jenewerstruik, lourier en wilde aarbeie. Dit deurtrek die melk met soet aromatiese geure. Daar is slegs sowat 25 000 van dié spesiale koeie en hulle skei slegs tussen Mei en Junie melk af. Dit maak van dié kaas een van die beste en mees seldsame ter wêreld, verduidelik Serendipity 3.

Die restaurant het 48 uur kennisgewing nodig om dié spesiale broodjie te bestel.

Volgens Guinness-wêreldrekords word die Quintessential Grilled Cheese op twee snytjies Franse Pullmansjampanjebrood bedien wat met Dom Perignonsjampanje en eetbare goudvlokkies gemaak word. Wittruffelbotter word gebruik saam met die seldsame Caciocavallo Podolicokaas. Die broodjie word bedien met ʼn Suid-Afrikaanse kreeftamatiebisk as ʼn doopsous.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sandra ·

Ja moenie suinig wees met die botter nie, boetie. Sal ek tog in my lewe so ‘n duur toebie koop. Op die einde van die dag gaan dit goedkoper wees om self Italie toe te vlieg om die kaas te gaan koop, lol.

bolletjie blom ·

Daardie broodjie is dan so plat soos ‘n pannekoek. My eie kaas broodjies wat ek by die huis maak is nie eers so plat nie. Wie op aarde betaal vir dit?

Koen ·

Lekker laat jy my lag. Dis nie die kwantiteit nie – maar die kwaliteit. Die enetjie van R 4k gaan jou nie volmaak nie.

Faraway ·

Ek kan nie eens R4000 se kruideniers n maand bekostig nie wat nog van die dun bleeksiel broodjie koop? Hoe ydel kan die mens nie wees nie . . .

piet ·

$214 is nie baie vir ‘n Amerikaner nie. Hoeveel sou ‘n gewone kaas-toebroodjie daar kos in ‘n restaurant, so $10 miskien?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.