Eetgewoontes lei tot tekort aan lakseermiddels in VSA

Argieffoto (Foto: Alexa / Pixabay)

Die oorgebruik van lakseermiddels in die VSA het daartoe gelei dat dit nie maklik in winkels opgespoor kan word nie.

Die Wall Street Journal het eerste oor die tekort berig en dit word toegeskryf aan ʼn rits faktore. Buiten ʼn verouderende bevolking en Amerikaners se geneigdheid om minder vesel te eet, het swak eetgewoontes wat tydens die pandemie ontwikkel het en ʼn toename in reis en vreemde werkskedules tot die probleem bygedra.

Hierdie toename in die aanvraag na lakseermiddels beteken dat produkte soos Miralax en Glycolax vinnig van die rakke opgeraap word en verkope van vesel-aanvullings het skerp toegeneem.

“Dit is mal om te dink dat ons gesamentlike stoelgangprobleme só erg geword het dat ons letterlik ʼn tekort het aan lakseermiddels,” het dr. George Pavlou van die Gastroenterology Associates of New Jersey aan die Journal gesê.

Daar is ook ʼn nuwe verbruikersgroep. Jonger kopers maak al hoe meer staat op lakseermiddels en maatskappye pas aan by dié skuif deur jellieprodukte aan hulle te bemark.

Gesprekke oor ingewandegesondheid is ook nie meer ʼn groot taboe vir jonger generasies nie en word aangevuur deur die #GutTok-beweging op TikTok. Gesondheidswerkers is egter besorg oor die oorgebruik van lakseermiddels en aanvullings.

Verkeerde inligting oor ingewandegesondheid word wyd op sosiale media gedeel, waaronder die wanpersepsie dat lakseermiddels vir gewigsverlies gebruik kan word.

Dr. Jenna DiLossie, ʼn spesialis in eetsteurings, het aan die Journal gesê sy het onlangs ʼn toename gesien in tieners wat lakseermiddels misbruik.

“Wanneer mense ʼn groot maagwerking gehad het en hulle voel heeltemal leeg binne, verwar hulle dit met maerwees en gesondheid,” sê sy.

Dokters benadruk die belangrikheid van ʼn gebalanseerde dieet wat ryk is in vrugte, groente en volgraan as die eerste stap om ʼn gesonde ingewande te verseker. Om lakseermiddels te neem, is ʼn teken van die voorkeur vir ʼn “vinnige oplossing” en die New York Post het ʼn rits voorbeelde hiervan uitgewys wat op sosiale media gedeel word. Dokters waarsku egter dat dit die probleem ook nie oornag opgelos sal word as mens vesel begin eet nie. “Baie mense neem dit vir hardlywigheid en verwag dat dit dieselfde dag nog gaan werk,” het dr. Wendi LeBrett, ʼn gastroënteroloog, aan Insider gesê. Sy wys ook daarop dat mense wat van die huis af werk nie gereeld beweeg nie en dit kan beslis ook hardlywigheid veroorsaak of vererger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karoo ·

Goeiste… wat lees ons hier, en ons dink dit gaan sleg in SA.. die mense se mae kan nie gaan nie lol…. lol…. lol.

TrueMan ·

Dalk die nuwe toiletpapier weredwyd nadat ou voorraad uitverkoop is voor lockdown.

Chris ·

Ek glo alles het ‘n balans in die lewe. Die woordjie “te” is baie keer die mees beskrywende byvoegsel. Die voordeel uit die VSA verknorsing is dat daar dan seker te veel toilet papier beskikbaar is. Die statistieke wat die persentasie obesiteit van die Amerikaners bewys, is dit duidelik dat hulle ten minste vyf etes voor en agt besoeke aan die kleinste kamertjie agter is. Hulle kan maar berus, dit gaan amper oral so, en ek sien dit daagliks hier by ons ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.