Foto’s: Eet saam met die visse in dié onderwaterrestaurant

Under, Europa se eerste en die wêreld se grootste onderwaterrestaurant (Foto: Snohetta.com)

Under, Europa se eerste en die wêreld se grootste onderwaterrestaurant het sy deure Woensdag in Lindesnes in Noorweë oopgemaak.

Dié restaurant is vyf meter onder die water aan Noorweë se suidkus gebou en besoekers kan binne-in die eetplek die seelewe agter glas dophou.

Dié restaurant is ontwerp om te lyk soos rotsvorming wat bó die wateroppervlak uitsteek.

Under is 34 meter lank en die growwe buitewande is ontwerp om mettertyd as ʼn rif te dien vir klipmossels en kelp.

“Ons wil toeriste van oral ter wêreld lok. Dit is ons doel. Een van ons hoofkriteria is dat besoekers iets waarlik unieks in die see kan ervaar,” het Gaute Ubostad, een van die stigters van dié restaurant aldus Deutsche Welle gesê.

Die Noorweegse argitekfirma Snoehetta het dié interessante gebou ontwerp. Dié argitekte het ook die operahuis in Oslo en die 9/11-gedenkmuseum in New York ontwerp.

Under het ʼn groot venster aan die een kant van die restaurant waar besoekers die seelewe kan geniet saam met hul kos. Vis soos kabeljou asook ander seediere soos krap, kreef en doringhaai kan deur die venster gesien word.

“Die groot venster vertoon die seelewe nie soos in ʼn akwarium nie, maar as die ware jakob,” sê die argitek Kjetil Treadal Thorsen.

Kunsmatige ligte sal gebruik word om die visse en hul prooi na die venster van Under te lok.

Hoofsjef Nicolai Ellitsgaard Pedersen sal onder meer vis, seevoëls en wilde skape wat naby aan dié restaurant wei gebruik in geregte op die spyskaart.

Indien jy dié restaurant wil besoek moet jy vinnig spring want daar is ʼn waglys tot Oktober, met meer as 7 000 mense wat reeds besprekings vir ʼn maaltyd by Under gemaak. Dié ervaring is egter nie al te goedkoop nie – ʼn maaltyd in dié unieke restaurant kan jou tot R6 000 uit die sak jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nic ·

Nou sit en eet jy daar aan ‘n stuk vis en ‘n kabeljou kom kyk vir jou deur die venster: “My kos kyk vir mjy!”

Justice ·

Ek kry so `n halwe Titanic gevoel – daardie ingang met `n spring gety lyk maar bra verdag.

Pisces ·

Lyk viskriklik vervelig binne.
En wie eet seevoëls? Dit klink banaal.

Ek ·

Die gebou van buite lyk vir my soos iets wat van n trok af geval het en net daar geland het

Andreas ·

Melanie, ek is mal oor seekos, maar ek sal jou eerder hier met die braai ondersteun. Dit sal darem nie lekker wees as ek die kreef se bene daar in die restarant breek om van die vleis by te kom nie, en as ek opkyk kom ‘n kreef daar aan die onderkant op die seebodem verbygestap.

Essa ·

Die argitek het beslis nie moeite gedoen om die gebou van buite beter met die omgewing te laat saamsmelt nie; dis onooglik. Lyk inderdaad soos “Ek” sê soos rommel wat per ongeluk daar geval het. En sekerlik nie vir iemand met engtevrees nie!

Strand looper ·

Kan werk vir Suid Afrika ook! Nooi die huidige regering uit vir eete en sink die ding….ha ha

Andreas ·

Met die swaar oorgewigte daar binne het dit nie hulp nodig nie, dit sal vanself sink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.