Inwoners van ‘Frozen’-dorpie betoog teen massatoerisme

Hallstatt, Oostenryk (Foto: veronica111886 / Pixabay)

Hallstatt is ʼn pragtige dorpie tussen die Alpe in Oostenryk. Talle van die inwoners wil egter hê jy moet wegbly.

Die dorp, wat langs ʼn ongerepte meer geleë is, het minder as 800 inwoners. Op besig somersdae daag daar egter tot 10 000 besoekers op, berig die BBC.

Meer as 100 inwoners het verlede naweek betoog teen massatoerisme. Hulle het sowat 15 minute lank ʼn tonnel, wat na die dorp lei, versper. Hulle het plakkate rondgeswaai met slagspreuke soos: “Rem nou, anders word ons omgery” en “Dink aan ons kinders”, berig Sky News.

Die betogers versoek ʼn beperking op die getal besoekers en ʼn verbod op toerbusse ná 17:00.

Hallstatt is al sedert die vroeë 19de eeu bekend vir sy natuurskoon, maar toeristegetalle het in 1997 begin toeneem toe dit as ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar is, het CNN vroeg in 2020 berig, kort voor die pandemie massatoerisme onderbreek het.

Deel van die dorpie se enorme aantrekkingskrag, buiten die eindelose selfie-geleenthede, is dat dit na bewering die inspirasie was vir Arendelle, die fiktiewe ligging in Disney se Frozen-flieks.

Die dorp se burgemeester, Alexander Scheutz, was een van die betogers. “Ons het baie opsies probeer wat betref die bestuur van besoekers, maar ons het ʼn punt bereik waar daar geen ander keuse is nie,” het hy gesê, aldus die Times. “As ʼn dorpie kan ons slegs die helfte van die toeriste hanteer wat tans die dorp besoek.”

Volgens hom ondersoek die dorp ʼn kaartjiestelsel om die getal besoekers tot 5 000 per dag te beperk.

Maroela Media het in Mei berig die dorp moes reeds houtheinings oprig om die uitsig oor die Alpe te versper. Dit was een van die pogings om te voorkom dat te veel toeriste op die dorpie toesak. Dit is egter later verwyder toe te veel mense daaroor gekla het, berig die BBC.

(Foto: Julius Silver/Pixabay)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Goldy ·

Aanlyn kaartjievereiste, plus n stewige prysverhoging, en probleem is opgelos, en elke burger wen.

Misky ·

Dis sowaar pragtig en ek sou dink toerisme bring geld na jou dorpie toe. Ek sou ‘n pragtige hotel/gastehuis oprig en die geld sal behoorlik instroom!!!!

Charllas ·

Goeie hemel dis mooi….maar dit mooi en skoon laat my verstaan hoe hulle nie mense daar soek nie. Baie mense sal daai natuurskoon in eendag verwoes! Mense besoedel en mors, die besoekers gaan nie omgee nie hulle is mos net vir `n dag daar….. Sal love om die plekkie in persoon te sien maar sal ook die mense wat daar bly se wense respekteur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.