Kampioen verorber 76 warmbrakke binne 10 minute

Foto: Hot Dog Eating Contest/Facebook

Die titelhouer Joey “Jaws” Chestnut het Sondag sy eie rekord verbeter toe hy 76 warmbrakke binne 10 minute kon verorber by die Nathan’s Famous International Hot Dog Eating-kompetisie.

Die wêreld se top-warmbrak-eter het 26 frankfurters en broodjies meer geëet as Geoffrey Esper, wat in die tweede plek geëindig het. Chestnut het ook een meer warmbrak verorber as tydens die jaarlikse 4 Julie-vakansiedaggeleentheid verlede jaar.

“Dit het net goed gevoel,” het Chestnut aan die uitsaaier ESPN gesê oor die byeenkoms wat hierdie jaar weer voor ʼn skare kon plaasvind ná verlede jaar se geleentheid binnenshuis en sonder toeskouers gehou is weens die Covid-19-pandemie. “Selfs al was ek ongemaklik, het dit my goed laat voel om te hoor hoe almal juig en my aanpor.”

Joey “Jaws” Chestnut het 76 warmbrakke binne 10 minute verorber op 4 Julie 2021 by Coney Island in Brooklyn. (Foto: David Dee Delgado/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Volgens pandemie-beperkings kon die kompetisie nie buite Nathan’s se warmbrakrestaurant by Coney Island in Brooklyn, New York in die VSA plaasvind nie, maar wel by ʼn juniorliga bofbalpark met 5 000 toeskouers.

Chestnut het nou 14 van die afgelope 15 kompetisies gewen sedert hy die verdedigende kampioen Takeru Kobayashi van Japan in 2007 geklop het. Die enigste keer wat hy nie met die titel weggestap het nie, was in 2015 toe Matt Stonie hom geklop het.

Michelle Lesco het 30 en ʼn driekwart warmbrakke geëet om die vrouetitel te wen. Miki Sudo, wat die vrouetitel al sewe keer ingepalm het, kon nie vanjaar deelneem nie. Sy verwag haar eerste kind later vandeesmaand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Belinda ·

Ek het al so program gesien met so kompetisie, is verbasend hoe heel hulle die goed by die keel afdruk. is eintlik gross hoe hulle die goed so verslind. daai klein japenese vrouens, jis julle moet sien hoe kan hulle daai goed verslind, dis rof hoor. but whatever tickles your fancy hey….

koos10 ·

Dis 1 elke 8 sekondes! Mensig, ek sal nie die ou vir ‘n braai nooi nie!!

Suzette ·

Hoe voel ‘n mens na 76 warmbrakke? Ek kan nie glo daar is plek in ‘n mens se maag vir soveel kos nie. Die ou moet oppas sy maag gaan nog van sy sluk afgeskeur word. Siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.