Man ry met yslike bul rond

Skermgreep uit die video

Motoriste se oë het gerek toe hulle ʼn yslike bul genaamd Howdy Doody op ʼn motor op ʼn snelweg in Nebraska in die VSA opgemerk het.

Lee Meyer het verlede week Woensdag met sy aangepaste Ford Crown Victoria gery met sy Watusi-bul op die passasiersitplek, berig die Associated Press toe owerhede in kennis gestel is.

Die polisie in Norfolk, Nebraska het aan News Channel Nebraska gesê hulle het 911-oproepe oor die bees ontvang. Hulle het gedink dit is dalk ʼn kalf, “iets klein of iets wat in die motor kan pas”. Dit is eers toe beamptes dit self gesien het, dat hulle besef het hoe groot die dier is.

Die nuuskanaal het ʼn video gedeel van die beamptes wat Meyer voorkeer, met Meyer se enorme passasier.

“Die beampte het waarskuwings aan hom uitgereik,” het Norfolk-polisiekaptein Chad Reiman aan verslaggewers gesê. “Die beampte het besluit om hom eerder te waarsku as om ʼn boete uit te reik en het hom gevra om die dier terug te neem huis toe.”

Meyer en Howdy Doody het later na hul tuisdorp Neligh teruggekeer, sowat 60 km van Norfolk. Dit is nie duidelik hoekom hulle Norfolk toe gery het nie.

Meyer se vrou Rhonda het aan News Channel Nebraska gesê haar man het die bul agt of nege jaar gelede gekry en dit is sedertdien sy “vriend en pel”. Ondanks die feit dat die polisie hom voorgekeer het, sê sy dit gaan goed met haar man en hy dink hy is nou ʼn “filmster”.

Dit is nie die eerste keer dat Meyer met sy bul rondry nie. Howdy Doody het in 2019 ook die 4 Julie-parade bygewoon, berig Antelope County News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.