Muntstuk-opskiet is nie 50/50 nie

Argieffoto (Foto: Erdenebayar Bayansan / Pixabay)

As jy ʼn effense voordeel wil hê wanneer ʼn muntstuk in die lug opgegooi word, het dié navorsers vir jou ʼn wenk.

Navorsers sê jy moet kyk watter kant na bo wys voor die muntstuk in die lug opgegooi word, en jy moet dan daardie kant kies. Dié taktiek sal 50,8% van die kanse werk, aldus die span wat 350 757 keer ʼn muntstuk in die lug opgeskiet het.

Vir die voorafgepubliseerde studie, wat verlede week op die arXiv-databasis gepubliseer is, en nog nie deur eweknieë nagesien is nie, het 48 mense munstukke van 46 verskillende geldeenhede in die lug opgegooi.

Hulle is aangesê om die muntstuk met hul duim op te skiet en dit in hul hand te vang. As die muntstuk op ʼn plat oppervlak land, kom ander faktore in berekening, soos dat die muntstuk kan hop of in die rondte kan tol.

Frantisek Bartos, van die Universiteit van Amsterdam in Nederland, het aan AFP gesê die werk is geïnspireer deur navorsing deur die wiskundige Persi Diaconis by die Universiteit van Stanford in 2007. Diaconis is ʼn voormalige kulkunstenaar.

Diaconis se model het aangedui daar is ʼn “wankelrigheid” en ʼn effense oorhelling wanneer mense ʼn muntstuk met hul duim opskiet, het Bartos gesê. Weens dié vooroordeel, het hulle voorgestel dat dit 51% van die kere op die kant, wat na bo wys, sal land wanneer die muntstuk opgeskiet word – byna presies dieselfde syfer uit Bartos se navorsing.

Alhoewel dit nie soos ʼn beduidende voordeel lyk nie, het Bartos gesê dit bied ʼn effense voordeel wat casino’s het teen “optimale” blackjack-spelers.

Dit hang ook af van die tegniek van die persoon wat die muntstuk opskiet. Sommige mense toon byna geen vooroordeel nie, terwyl ander baie meer as 50,8% gehad het. Vir mense wat daartoe verbind was om kop of stert te kies voor elke opskiet, was daar geen vooroordeel vir enige kant nie, het die navorsers bevind. Nie een van die verskillende muntstukke het enige teken van vooroordeel getoon nie.

Om ʼn regverdige muntstuk-skiet te bereik, is eenvoudig: maak seker dat die persoon wat “kop” of “stert” kies, nie kan sien watter kant na bo wys voor die muntstuk opgeskiet word nie.

Pret om simpel goed te doen

Toe Bartos met sy navorsing wou begin, het hy natuurlik mense gesoek wat bereid sou wees om muntstukke in die lug op te skiet. Hy het eers sy vriende probeer oorhaal en gesê hulle sou die naweek lank Lord of the Rings kyk, maar hulle het nie belanggestel nie. Hy het uiteindelik ʼn paar studente en kollegas oorgehaal om hom te help wanneer hulle kans gekry het – selfs tydens hul etensuur en terwyl hulle met vakansie was.

“Dit sal verskriklik wees,” het hy aan hulle gesê, “maar soms is dit pret om simpel goed te doen.”

Die muntstuk-skieters het naweeklange byeenkomste gehou waar hulle van 09:00 tot 21:00 muntstukke opgeskiet het. ʼn Masseergeweer is ingespan om seer skouers te behandel.

Talle besluite is al in die geskiedenis gemaak deur muntstukke in die lug op te skiet. Bartos het bevind die Wright-broers het ʼn muntstuk opgeskiet om te besluit wie die eerste vlug sou aanpak.

Muntstukke is ook al ingespan in verkiesings, insluitend ʼn burgemeestersverkiesing in die Filippyne in 2013 toe die twee kandidate ʼn gelyke hoeveelheid stemme ontvang het.

Dit word veral in sport gebruik. In krieketwedstryde word ʼn muntstuk opgeskiet om te bepaal wie eerste sal kolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.