Nasa-parfuum: Ruik self die buitenste ruimte!

Eau de Space (Foto: Kickstarter)

Ruimtevaarders beskryf die reuk van die ruimte as “ʼn mengsel buskruit, braaivleis, frambose en rum”.

ʼn Geur wat soos die buitenste ruimte ruik kan binnekort beskikbaar wees aan die publiek, jare ná dit ontwikkel is om ruimtevaarders gewoond te maak aan die reuk van die ruimte.

Volgens CNN is Eau de Space ontwikkel deur Steve Pearce, ʼn chemikus en die stigter van Omega Ingredients. Nasa het Pearce aanvanklik in 2008 aangestel om die reuk van die buitenste ruimte na te maak as deel van die ruimteagentskap se doelwit om enige moontlike verrassings vir ruimtevaarders uit te skakel. Hy het vier jaar lank gespook om die geur presies na te maak.

Aan persone wat nog altyd wou weet hoe die buitenste ruimte ruik, het Peggy Whitson, ʼn ruimtevaarder en voormalige inwoner van die Internasionale Ruimtestasie, in 2002 tydens ʼn onderhoud met CNN gesê: “Dis bietjie soos die reuk van ʼn vuurwapen, net ná jy dit afgevuur het. Daar is ook iets bitter, tesame met ʼn rokerigheid en iets wat gebrand het.”

Volgens Unilad het Pearce ook inspirasie geput uit die inligting van ander ruimtevaarders wat gesê het dit is “ʼn mengsel van buskruit, braaivleis, frambose en rum”.

Die span agter Eau de Space is nou op soek na finansiële ondersteuning van die publiek deur ʼn Kickstarter-projek om die geur aan belangstellendes bloot te stel.

“Die reuk van die ruimte was nog altyd net vir mense bedoel wat op ʼn “Need to Know”-basis was – soos tydens opleiding vir ruimtevaarders en dit was weggesteek agter burokrasie,” aldus die Kickstarter-webwerf. “Nou het ons julle hulp nodig om dit op grootmaat te vervaardig sodat almal dit self kan ruik.”

Vir ongeveer R500 ($29) kan jy jou eie botteltjie Eau de Space bestel. Die aflewering sal na verwagting in Oktober 2020 plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Ek verstaan nie einlik hoe mens die ruimte kan ruik nie. Niemand kan daar asem haal nie. Al wat mens ruik is die binnekant van jou ruimtepak en die suurstof uit jou suurstof silinder?

koos10 ·

Net so, Johan. As jy iets ruik brand in die ruimte, het jy groter probleme as hoe dit moet ruik.
Dan net so ‘n ander vraag, hoe weet Steve Pearce hoe die ruimte moet ruik, was hy al daar??? Miskien is my kop te plat daarvoor, maar reuke beweeg in die lug, nes klank. In die ruimte is daar nie ‘n atmosfeer nie, hoe kan dit dan geruik word?
Nog ‘n geldmaak storie?

Simon ·

Na ‘n “space walk” terug in hul beskermende omgewing, kry ruimtevaarders daardie “ruimte” reuk. Lees daaroor.. daar is al baie daaroor geskryf en vertel.

marius ·

Sit die Vaal rivier se water in botteltjies , dan ruik almal na die nuwe suid afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.