NSRI slaan rekord met suigstokkies

Lede van NSRI by die lang ry suigstokkies (Foto: Guinness-wêreldrekords)

KwaZulu-Natal is in April 2022 getref deur verwoestende oorstromings. Meer as 400 mense is dood en duisende is dakloos gelaat. As dit nie vir die heldhaftige pogings van die Nasionale Seereddingsinstituut was nie, sou baie meer mense hul lewens verloor het.

Die NSRI is ʼn vrywilligersorganisasie wat 24 uur van die dag, sewe dae per week, aan diens is. Dit is in 1967 opgerig ná die tragiese verlies van drie vissersbote naby Stilbaai die vorige jaar. Patti Price, ʼn onderwyseres wat as ʼn kind deur die Royal National Lifeboat Institution van verdrinking gered is in die Engelse Kanaal, het die leiding geneem om die organisasie op die been te bring.

NSRI-vrywilligers het ʼn ongelooflike spangees en goeie kommunikasie en hulle het beplan om die wêreld se langste ry suigstokkies te bou.

Die langste ry suigstokkies (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Op 6 Augustus 2022 het 27 vrywilligers van NSRI Stasie 5 saamgekom om die rekordpoging aan te pak op Durban se promenade. Die ry moes minstens 9 999 suigstokkies lank wees en elke suigstokkie moes aan ʼn ander een raak. Dit was dus noodsaaklik om aandag te skenk aan die fyn besonderhede. As daar enige gapings was, maak nie saak hoe klein nie, sou die poging nie suksesvol wees nie.

Luthando Ngqulunga, ʼn vrywilliger by NSRI Stasie 5, was vol vertroue in sy span se vermoë om die rekord te verbeter. “Ons doen die moeilikste werk om lewens te red, so om die suigstokkies neer te lê was so maklik soos val uit ʼn boom!” sê hy. “Ons is boonop baie mededingend.”

“Ons gaan 10 500 haal!” het een spanlid voorspel.

Die grootste bedreiging vir hul sukses was ʼn sterk wind wat die suigstokkies uit posisie sou waai. Hulle het begin deur ʼn lyn op die grond te trek waar die suigstokkies sou lê. Talle toeskouers het kom staan en kyk wat aangaan en binnekort was daar ʼn hele skare mense wat die poging aanskou het.

Die NSRI-vrywilligers het in spanne van twee verdeel om die moeilike dele te takel. Dit het hulle slegs 90 minute gevat om genoeg suigstokkies neer te lê vir die rekord.

Hulle het uiteindelik 11 602 suigstokkies uitgepak en die ry was meer as 1 km lank.

“Die NSRI het uitstekend saamgewerk,” het die amptelike Guinness-beoordelaar Sofia Greenacre gesê. Die ry was só lank dat Greenacre vyf mense moes inspan om te help tel!

Die suigstokkies sal tydens NSRI se gemeenskapsgeleenthede by skole uitgedeel word. Die NSRI se waterveiligheidsprogram het in 2006 begin en fokus daarop om mense in Suid-Afrika op te lei oor veiligheid in en rondom water.

EPISODE TWO BTS We loved being in Durban, watching the NSRI attempting this record so much we have to share some more…

Posted by StumboSA on Sunday, October 2, 2022

The NSRI smashed the GUINNESS WORLD RECORD®️title for the longest line of lollipops with so much exuberance our hosts…

Posted by StumboSA on Sunday, October 2, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.