Ontmoet Scooter, 2023 se lelikste hond

Scooter, ʼn Chinese kuifkophond saam met sy eienaar Linda Elmquist (Foto: Philip Pacheco/AFP)

ʼn Sewejarige Chinese kuifkophond genaamd Scooter is oor die naweek gekroon as die wêreld se lelikste hond.

Scooter het ʼn bedrag van $1 500 (byna R28 000) en ʼn trofee ingepalm.

Die kompetisie, wat al die afgelope 50 jaar deel vorm van die Sonoma-Marin-fees in Petaluma, Kalifornië in die VSA, is ʼn wêreldbekende geleentheid. Dit fokus op aanneming van troeteldiere, spog met honde wat slegte omstandighede oorkom het en vier die honde se gebrekkighede.

Scooter is gebore met misvormde agterpote. Die haarlose Chinese kuifkophond is deur die reddingsgroep Saving Animals From Euthanasia (SAFE) gered, aldus Today. ʼn Man in die reddingsgroep het hom aangeneem en hom sowat sewe jaar lank versorg. In dié periode het Linda Elmquist gereeld ingeloer om te hoor hoe dit met hom gaan en hom gehelp om die nodige mediese behandeling te ontvang.

Toe die man nie meer met Scooter se versorging kon voortgaan nie, het Elmquist hom aangeneem.

Scooter, ʼn Chinese kuifkophond is as 2023 se lelikste hond van die jaar aangewys (Foto: Philip Pacheco/AFP)

Scooter loop al sedert hy ʼn babahondjie was op sy voorpote. Soos wat hy ouer word, raak hy al hoe vinniger moeg. Hy sit dan op sy agterpote soos ʼn driepoot.

Elmquist sê ʼn fisioterapeut het ondersoek ingestel om te bepaal of Scooter ʼn waentjie sou kon kry en alhoewel dit hom lank gevat het om aan die waentjie gewoond te raak, kan hy nou baie vinniger beweeg.

Buiten sy gebrek is Scooter net soos ʼn gewone hond, sê Elmquist.

ʼn Hondekind genaamd Mr. Happy Face is verlede jaar as die wêreld se lelikste hond gekroon. Mr. Happy Face was ʼn 17-jarige Chinese kuifkophond. Met sy punk-haarstyl en ʼn tong wat permanent aan die kant van sy mond uithang, het hy nege ander honde vir dié titel in die stof laat byt.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê maar net ·

Ag moeder…..eintlik mooi van lelikgeit.
Ek hou net glad nie van die idee dat sy eienaar geld uit hom maak nie….
Solank hy net goed versorg word.

Misky ·

Sjoe, ek sal nie graag in hom wil vasloop in die aand nie. Sal nagmerries kry – ha ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.