Polisie gryp in toe broers motor in ‘helikopter’ verander

Skermgreep uit YouTube-video

Die polisie in Indië het beslag gelê op ʼn doen-dit-self-motorprojek van twee ondernemende broers. Hulle het ʼn klein Suzuki-luikrugmotor omskep om soos ʼn helikopter te lyk.

Hulle het beplan om die motor uit te verhuur vir troues.

Ishwardin en Parmeshwardin Prajapati het byna R56 000 spandeer om klein helikopterlemme aan die dak van die motor vas te maak en ʼn metaalstert vervaardig om soos ʼn helikopter te lyk.

Hulle het ʼn paar weke lank aan die omvattende wysigings gewerk in ʼn werkswinkel in die noordelike staat Uttar Pradesh, berig plaaslike media.

Hulle wou sowat 5 000 roepees (net meer as R1 000) per dag vra vir paartjies wat trou en na ʼn spesiale tipe vervoer vir hul spesiale dag op soek is.

“Ek het die motor gewysig sodat dit vir troues uitverhuur kan word en ons familie bietjie ekstra geld kan verdien,” het Ishwardin gesê, aldus die Economic Times.

Hul planne is egter in die wiele gery toe polisiebeamptes op die “motorkopter” beslag gelê het. Dit was op pad om ʼn laaste lagie verf te kry.

Die voertuig is gekonfiskeer omdat dit nie aan padreëls voldoen nie en ongemagtigde wysigings het, het India Today berig.

Die broers het ʼn boete van 2 000 roepees (ongeveer R450) betaal en die voertuig is aan hulle terugbesorg op voorwaarde dat hulle die helikopterstert verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Griesel ·

Enigiets om te keer dat inwoners nie meer van die staat afhanklik is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.