‘Tom and Jerry’ het al kunsmatige intelligensie voorspel

Skermgreep uit die video

Kunsmatige intelligensie is deesdae op almal se lippe. Van antwoorde op eksamenstelle tot die skryf van toesprake: KI het só gevorder dat dit nou selfs interaksie kan hê met gebruikers en oplossings vir jou probleme kan verskaf.

Die vooruitgang in tegnologie bedreig egter ook talle bestaande poste en laat die vraag ontstaan of van dié poste in die toekoms nog nodig gaan wees.

Te midde hiervan is ʼn ou video van die klassieke tekenprent Tom and Jerry op sosiale media gedeel en dit word wyd versprei.

In die video word Tom, die kat, vervang deur ʼn robotkat wat doeltreffend van Jerry, die muis, ontslae kan raak.

“60 jaar gelede was Tom die eerste een om sy werk te verloor weens masjiene en kunsmatige intelligensie,” skryf Supriya Sahu in haar plasing op Twitter.

In die video roep Tom se eienaar hom en stel hom voor aan die robotkat wat voortaan sy pligte sal oorneem. “Mechano – The Cat of Tomorrow” hoef nie te eet nie, hy gee nie probleme nie, hy het nie ʼn pels nie, en hy is doeltreffend en betroubaar, sien Tom se eienaar op die advertensie.

Mechano maak dan vinnig werk van Jerry om hom uit die huis te verjaag.

Tom moet ongelukkig ook sy tasse pak en stap teleurgesteld weg nadat hy afgedank is.

“Wow!! Fred Quimby se span het dit al ʼn halfeeu gelede reg voorspel!” skryf een kyker. “Nou is dit net nie Tom se beurt nie, dis die mense se beurt,” skryf nog iemand.

“Wel, as mens die hele video kyk,” voeg nog iemand by, “wil die vrou Tom terughê, want die masjien het nie so goed uitgewerk nie.” Dit blyk dus dat masjiene ons nog nie heeltemal ore aansit nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.