Video: Die jongste skiër in die wêreld

ʼn Ses maande oue baba in Utah in die VSA het die wêreldrekord ontvang as die jongste waterskiër ooit.

ʼn Video wat wys hoe Rich Humpherys by Powellmeer ski het ʼn hewige debat op sosiale media ontketen. Die video is aanvanklik op Instagram gedeel deur die baba se ouers, Casey en Mindi Humpherys, vanwaar dit vinnig versprei het, berig UPI.

In die video hou Rich vas aan ʼn metaalpyp terwyl hy langs ʼn boot gesleep word. Sy pa is in die boot langs sy seun en hou ʼn wakende oog oor Rich. Hy dra ʼn lewensreddersbaadjie en sy voete is stewig aan die bord vasgemaak. “Ek het gaan ski vir my ses maande verjaarsdag. Dis glo nogal ʼn groot ding … #wêreldrekord,” lui die beskrywing by die video wat op ʼn rekening, wat spesiaal vir Rich geskep is, gedeel is.

Die beeldmateriaal het duisende kommentare uitgelok en toe dit op Twitter deur SportsCenter gedeel is, is dit meer as 7,6 miljoen keer gekyk.

Kykers is verdeeld oor die video. Sommige meen dat ʼn baba van ses maande te jonk is om te ski. Anders sê die baba is by sy pa en dit wil voorkom of alle veiligheidsmaatreëls getref is en dat die baba dit geniet.

“Die kind word in gevaar gestel. Moenie hande klap nie,” het een Twitter-gebruiker gesê.

“Dit lyk oulik, maar dit kan baie gevaarlik wees,” het ʼn ander gesê.

“Ek wil graag ʼn positiewe kommentaar lewer vir die familie,” het ʼn kyker op Instagram gesê. “Hy is so oulik en dit lyk of sy avontuurlustige familie baie lief is vir hom. Ek is seker dat julle dit nie sou toegelaat het as dit nie veilig was nie.”

Die vorige nieamptelike wêreldrekord vir die jongste skiër was Auburn Absher, aldus ABC News. Hy was ses maande en 10 dae oud toe hy saam met sy ouers geski het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

madels ·

Ag dis net te skattig! Mal hieroor en pa en kind geniet hulself gate uit! Bravo!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.