Video: Dís wat gebeur as ʼn ingenieur verveeld is by die huis

Skermgreep uit die video

Mark Rober, ʼn voormalige ingenieur van Nasa en Apple, was tydens die afsonderingsperiode verveeld by die huis en het besluit om die eekhorings in sy tuin te vermaak…

Rober het meer as 14,2 miljoen volgelinge op YouTube waar hy onder andere opvoedkundige video’s deel.

Volgens hom het die eekhorings die voëlsaad bly eet wat hy in sy tuin uitgesit het, en hy het toe ʼn ingewikkelde hindernisbaan vir die eekhorings gebou met neute as ʼn bederf vir die wenners.

“As hulle dié hindernisbaan kan bemeester, dan kan hulle soveel neute eet soos hulle wil!” skerts Rober.

Hy is egter gou verras deur die eekhorings se vernuftigheid (en hulle vermoë om deur die lug te trek!) – en hoe vernuftig hulle is om nie deur sy truuks gevang te word nie!

Hy stel kykers gerus: hy het slegs die meganiese dele van die hindernisbaan aangeskakel terwyl hy ʼn wakende ogie gehou het oor die eekhorings en hy het ook seker gemaak dat geen eekhorings beseer sou word indien hulle die hindernisbaan sou beproef nie.

Een van die oulikste affêrings wat hy op die hindernisbaan aangebring het, is ‘n hokkie waar hulle pasella ‘n neut kan kry as hulle ‘n foto sou neem.

Om seker te maak die eekhorings raak nie té gewoond aan gratis snoepgoed nie, het hy ná ʼn ruk weer die hindernisbaan uitmekaar gehaal.

Die video is baie gewild op sosiale media. Op Facebook is dit meer as 1,7 miljoen keer gedeel en meer as 43 miljoen mense het die video op YouTube gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nozi ·

Dit is soooo kostelik om te sien hoe hierdie eetkorings hul pad oop dink. Slimmer as sommige mense wat ek van weet. Hehehehehe!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.