Video: Hondjie oorleef wonderbaarlik rit in motor se enjin

Ashley Newman het onwetend met die hondjie in haar enjin gereis (Foto: Skermgreep uit die video)

ʼn Hond het wonderbaarlik ʼn reis van byna 50 km oorleef toe sy per ongeluk in die enjin van ʼn motor beland het.

Die hond het in die enjinkompartement ingeklim en het vasgesit. Die bestuurder van die motor het onwetend van Kansas na Missouri in die VSA gereis terwyl die hondjie in die enjin vasgekeer was.

Volgens die New York Post het Carrie Gillaspie, ʼn digitale verslaggewer en aanbieder vir die Kansas City Royals, Donderdag ʼn getjank gehoor uit ʼn motor in die parkeerterrein by die Kauffman-stadion.

Die eienaar van die motor, Ashley Newman, is na die parkeerterrein ontbied.

“Ek het na die motor toe gehardloop en die enjinkap oopgemaak. Ons het gesoek en sowaar twee ogies gesien wat na ons kyk,” het Newman aan KCTV gesê.

Die hondjie is uiteindelik ná ʼn groot reddingsoperasie deur die Royals se hooftegnikus Dennis Miller, veilig uit die enjin gered

“Ons kon haar bevry. Dit was ʼn groot verligting,” sê Miller. “Ek het self ʼn hond en ek kon myself net indink hoe ek sou voel as sy moet verdwyn.”

Volgens die Post-berig het Gillaspie gesê die hondjie was baie bly om hulle te sien.

Die hondjie het ongelukkig nie ʼn mikroskyfie gehad nie en hulle kon dus nie dadelik die eienaar opspoor nie.

Newman het op Facebook begin soek na plasings oor ʼn vermiste troeteldier in die omgewing. Sy het op ʼn plasing afgekom wat by die hondjie se beskrywing gepas het.

Die hondjie, genaamd BonBon, is aan die Kansas City Pet Project oorhandig en is uiteindelik met haar eienaar herenig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Hoe sy nie gebrand het van die warm enjin, of uitgeval het nie, is ‘n wonderwerk. Ek is bly sy is veilig en herenig met haar eienaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.