Video: Hygend hert, wat ʼn Hummer!

(Foto: TrungTPhan/Twitter)

ʼn Video van ʼn kolossale Hummer laat kykers op sosiale media verstom.

Die Hummer H1 “X3” is na bewering drie keer groter as ʼn gewone sportnutsvoertuig. Die video wys hoe ʼn groep mense die bestuurder help om die massiewe voertuig te beheer.

Die Hummer H1 “X3” behoort aan sjeik Hamad bin Hamdan al Nahyan, ʼn bekende lid van die koninklike familie in die Verenigde Arabiese Emirate.

Die South China Morning Post het in November verlede jaar berig dat die reusagtige voertuig deel vorm van die sjeik se buitengewone motorversameling. Die 74-jarige sjeik Hamad, ʼn miljardêr met bates van meer as $20 miljard, is bekend vir sy passie vir motors. Hy het talle seldsame en eksentrieke motorwonders.

Die video is op X (voorheen bekend as Twitter) al meer as 19 miljoen keer gekyk. “Moet hulle elke keer die pad sluit wanneer hy iewers heen wil ry? Dis gerieflik!” skryf een persoon. Nog iemand het die voertuig as ʼn “Humzilla” beskryf.

SuperCarBlondie berig die voertuig weeg sowat 60 000 kg. Dit staan ses meter hoog.

Die bande kos elkeen sowat $25 000 (ongeveer R470 000).

Alles van die Hummer is reusagtig, en net so duur. Elke deur neem sowat ses maande om te bou. Om in te klim, het jy ʼn stel trappe wat onder die Humvee uitskuif.

Die binnekant is groot genoeg om ʼn badkamer met ʼn wasbak, ʼn kombuis en ʼn sitkamer te huisves.

Die enjin het sowat 1 000 perdekrag met ʼn topspoed van ongeveer 32 km/h.

Sjeik Hamad staan ook bekend as die “reënboog-sjeik”. Hy het ʼn vloot van honderde motors, waaronder ʼn reeks klassieke Mercedes E-klas-motors, een vir elke kleur van die reënboog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Hy het n Dodge bakkie ook wat so groot is asook n karavaan in die vorm van n aardbol.

Niklaas ·

Dis onprakties en sommer ongemaklik. Maar as jy verveeld raak met al jou miljoene , kan dit ‘n probleem word.

Natasha ·

Daar is soveel hongersnood en armoede in die wêreld en mense spandeer hulle geld op sulke snert. Dit maak my siek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.