Video: SA’ner in Springboktrui skrik nie vir Oostenryk se koue

Ferdi de Beer (Foto: Skermgreep uit die video)

ʼn Springboktrui, kortbroek en plakkies was genoeg om Ferdi de Beer, ʼn Suid-Afrikaner wat in Oostenryk woon, warm te hou tydens die yskoue wintersdag van -3 °C.

Ferdi het onlangs ʼn video op Facebook gedeel waar dit yskoud is en sneeu dik buite lê. Kykers kan sy seuntjie in ʼn dik baadjie sien rondspeel in die sneeu, maar vir Ferdi self het die trotse Suid-Afrikaanse gees sy hart warm laat klop en gehelp om die koue te keer.

Hy vertel hy het die video gemaak omdat hy daarvan hou om laf te wees, en om dalk ʼn glimlag op iemand se gesig te sit, veral in die moeilike tyd waardeur almal op die oomblik met die Covid-19-pandemie gaan.

“Verbasend was dit nie só koud as wat ek gedink het dit sou wees nie. Ek sou maklik nog langer so kon rondloop. Behalwe vir my tone wat begin vries en brand het omdat hulle direk in aanraking met die sneeu gekom het,” skerts hy.

Ferdi, sy vrou, Leigh, en hul twee seuntjies, Cayson en Kohen, woon sedert Junie 2019 in Wene, Oostenryk, waar hy in lugverkeer werk en Leigh ʼn Engels-onderwyser is.

Ferdi, Leigh, en hul twee seuntjies, Cayson en Kohen (Foto: Verskaf)

“Die grootste aanpassing vir ons is die taal,” sê Ferdi. “Vir my is dit nog makliker om Duits te leer omdat ek Afrikaans is, maar my vrou se huistaal is Engels. Ons seuns praat vlot Afrikaans én Engels, en leer nou ook Duits in die skool.”

Die een ding wat die De Beers die meeste van Suid-Afrika mis, is die kos, maar wat hulle nie in die winkels in die hande kan kry nie, maak hulle sommer self. Dié gesin maak ook ʼn punt daarvan om minstens een maal per jaar saam met ander Suid-Afrikaners in die Oostenrykse hoofstad te braai.

Ferdi sê hulle is steeds trotse Suid-Afrikaners en Springbokke wat steeds graag die plaaslike rugbywedstryde volg.

“Veral wanneer die Suid-Afrikaners in Wene saam rugby kyk, is daar baie lekker gees.”

Lekker

Posted by Ferdi De Beer on Saturday, January 16, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos10 ·

Hier in SA was jy so waar as wragies gearresteer. Bier in die hand en plakkies aan!

Chantel ·

Ek is seker hy is ‘n boerseun van die Vrystaat af, want hier is dit ook bitter koud en die ouens loop net met 2 kort-broeke en sokkie saan…. ek nou lekker gelag vir hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.