Weens Covid-19 dog dokters baba se van is ʼn grappie

Jimmy Korona en sy vrou, Lauren, en hul babatjie Jimmy (Foto: Michael James Korona)

ʼn Man sê hy moet nou sy identiteitsdokument oral heen saam met hom vat, selfs tydens die geboorte van sy seun, omdat mense dink hy bak ʼn poets as hulle sy van hoor.

Jimmy Korona (38), van Stoke-on-Trent in Engeland, het gesê hy het nooit vantevore ʼn probleem met sy van gehad nie, maar sedert die uitbreking van die koronavirus sukkel hy dat afleweringsmaatskappye, kroegpersoneel en selfs dokters hom glo as hulle sy naam hoor.

Jimmy het tydens die afsonderingsperiode pa geword en die mediese personeel wou nie glo sy seun se van is Korona nie.

Die konstruksiewerker verduidelik sy van is van Poolse afkoms. “Ek moet gereeld my bankkaart of paspoort wys as bewys dat dit my van is en nog altyd my van was. Dit voel vreemd om my naam oral te hoor. Dis ʼn naam wat niemand anders het nie. Dis nie soos Smith of Davies nie, en nou is dit oral in die nuus, in die koerante, op die radio … dis mal.”

Jimmy en sy verloofde Lauren se babatjie, Jimmy Joseph Korona, is tydens die wêreldwye pandemie gebore. Hulle is van voornemens om te trou sodra afsonderingsregulasies hulle toelaat om ʼn onthaal te reël.

Hulle kan nie wag om ʼn gesin Koronas te word nie.

Jimmy se oupa, Jozef Korona, het tydens die Tweede Wêreldoorlog ʼn konsentrasiekamp in Duitsland oorleef. Hy is trots op sy familie en sy oupa se geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alta Alleman ·

Wees dankbaar jou kind se naam is nie Virus nie…:-))))

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wel, ek wil net sê dis nogal ‘n goeie store! Ek wil my ook doodlag oor sy van!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.