Worsbroodjie-kampioen kraai weer koning

Joey Chestnut (links) en Miki Sudo met onderskeidelik 63 en 40 worsbroodjies (Foto: Yuki Iwamura/AFP)

ʼn Man met die prettige naam Joey Chestnut het Maandag altesaam 63 worsbroodjies binne 10 minute verorber. Hy het nou al 15 keer die jaarlikse worsbroodjie-eet-kompetisie by Coney Island in New York gewen.

Hy het in 2020 ʼn persoonlike rekord van 76 worsbroodjies opgestel. Hy het vir die skare om verskoning gevra dat hy nie dié jaar weer sy rekord kon ewenaar nie, maar is van plan om selfs beter te vaar volgende jaar.

Chestnut het aan AFP gesê hy oefen deur gereeld worsbroodjies te eet en neem byna weekliks deel aan worsbroodjie-eet-kompetisies.

Ná Maandag se prestasie sal hy vir ʼn dag lank nie enigiets eet nie.

Chestnut het loshande die Nathan’s Famous Fourth of July Hot Dog Eating Contest gewen. In die tweede plek was Geoffrey Esper met slegs 47,5 worsies en broodjies. James Webb was in die derde plek met 41 worsbroodjies.

“Joey Chestnut is ʼn wonder – hy daag die wette van fisika uit,” sê George Shea, aanbieder van die kompetisie.

In die kategorie vir vroue het Miki Sudo koning gekraai. Sy het 40 worsbroodjies binne 10 minute verorber. Sy kon nie verlede jaar deelneem nie, omdat sy swanger was. Dié keer het sy met haar nuwe baba kom spog maar nie die rekord van 48 worsbroodjies gehaal nie.

Deelnemers van reg oor Amerika en selfs van so ver as Australië doop hul worsbroodjies in water of soda om dit makliker te maak om dit so vinnig te sluk.

“Die Nathan’s Famous Fourth of July Hot Dog Eating Contest is ongetwyfeld die mees ikoniese sportbyeenkoms in Amerikaanse geskiedenis,” voeg Shea by. “Dit is die smeltkroes waar grootsheid bewys word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louise ·

Is hy nie bang hy bars van al die hotdogs nie of is daar ‘n pyp van bo af tot onder vir bo in en onder uit.

Witbaard ·

Sy ander rekord was seker om 63 Rennies kort daarna op te eet

Anel ·

Sies man. Dan moet hy hier na ons toe kom vir ‘n ordentlike worsbrootjie! Die goed wat hy eet is gewoon ‘n vienna op brood! Ga! Wonder hooveel regte boereworsrolle hulle gaan kan eet? Maar dit bly siek!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.