Yslike skip vaar deur nou kanaal

Die Braemer-passasierskip vaar deur die Korinthekanaal (Foto: Fred Olsen Cruise Lines/Facebook)

Passasiers het hul asems opgehou toe hul skip onlangs deur die nou Korinthekanaal in Griekeland gevaar het.

Die 22,5 meter breë Braemer-passasierskip het op 9 Oktober vanjaar deur die rotswande van die kanaal gevaar wat op sy nouste slegs 25 meter breed is. Dit is die langste boot wat dié reis onderneem het, het Clare Ward, direkteur van kliëntediens vir Fred Olsen Cruise Lines, in ʼn verklaring gesê.

Die Korinthekanaal is ʼn waterweg wat Griekeland van die Peloponnesos-eiland skei en is 6,3 km lank. Dit is ʼn belangrike navigasieroete wat skepe in ʼn stadium gebruik het om die Egeïese See te bereik. Die hedendaagse struktuur is op 28 Oktober 1893 vir die eerste keer in gebruik geneem.

Volgens Metro News het die 24 000 ton Braemer-passasierskip meer as 1 200 passasiers en bemanningslede aan boord gehad. Persone op die skip kon met tye aan die walle van die kanaal raak. ʼn Veerboot is gebruik om die skip deur die kanaal by te staan.

“Dit is ʼn opwindende en uitsonderlike mylpaal in Fred Olsen se 171 jaar geskiedenis,” het Ward bygevoeg. “Dit was opwindend om dit met ons gaste te kon deel. Ons weet dit is ʼn vakansie wat hulle nie gou sal vergeet nie.”

Volgens Ward is die volgende Korinthekanaal-reis reeds op die dagboek. “Ons het baie belangstelling gehad en ons tweede Korinthekanaal-reis vind in die lente van 2021 plaas. Ons kan nie wag om dit weer te doen nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Skippie ·

Daai kaptein kan bestuur!. Kyk hoe oulik lyk daai kleintjie wat voor vaar.

humor ·

Ek glo vas daai is nie n stuurman nie, maar n stuurvrou. Vroue bestuur beter as mans, want alle vroue se so.

Frank ·

Jip, dink jys reg, want dit wil my voorkom die ding het agterstevoor deur die kanaal gegaan…

Vettel ·

Glo ook dit was ‘n vrou. Te oordeel aan die tweede video clip, het sy teen ‘n onverantwoordelike vinnige spoed deur daai kanaal gejaag :) :)

Nettie ·

@humor, ek dink jy is reg. Ag Frank, jou dinges man! Ons vroue bestuur beter as mans – kyk maar net wie is verantwoordelik vir die meeste noodlottige of ernstige ongelukke; mans – of vrouens? Vrouens sal dalk miskien in ‘n hekpaal vasry terwyl hulle lipstiffie aansit in die motor, maar dis meer mans wat die meeste (ernstiger) ongelukke veroorsaak.

Nogtans, ek sal maar eerder gesê het ek neem ‘n taxi tot by die anderkantste vasmeerplek vir dié skip, as om deur so ‘n nou gaping met so ‘n yslike skip deur te gaan ….. netnou sit die ding vas!

Karien ·

O tyd, ek weet nie, ek is self n vrou en my man sê hy het al bikes gery, vinnige karre en was nog nooit ooit bang gery nie, totdat hy langs my ingeklim het in n kar… Haha Ek dink jy kry goeie en slegte bestuurders tussen mans en vrouens.

Hierdie skipper ken sy storie, een golfie of geritsel van die water en hy slaan teen die kant. Dit wil gedoen wees.

Lou ·

Gee die Bell’s net nadat hy klaar deur die kanaal is anders gaan daai skip ‘n paar Whisky vlekke op hê.

KarinB ·

Welgedaan! Wat ‘n prestasie. Moes ‘n ervaring gewees het om dié skeepsreis mee te maak. Dankie Maroela, ek hou van sulke berugte.

Tong innie kies ·

Beslis is hierdie kaptein nie n Suid Afrikaanse taxi drywer nie.

J ·

Veerboot? Die woord wat julle soek is ‘sleepboot’. ‘n Veerboot is ‘n handelsvaartuig wat mense, motors en vrag tussen twee punte oor water vervoer, soms ook bekend as ‘n waterbus of watertaxi. Julle is welkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.