Verdagte vas ná dubbele plaasmoord

Glen en Vida Rafferty (Foto: Facebook)

’n Man is in hegtenis geneem in verband met die moord op die egpaar Glen en Vida Rafferty wat verlede maand koelbloedig buite hul plaashuis in Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal doodgeskiet is.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het Sondag gesê ’n29-jarige man is deur speurders van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad van Osizweni in Newcastle in hegtenis geneem.

“Hy is toe na ’n landdros geneem waar ’n bekentenis geboekstaaf is.”

Volgens Naicker is die verdagte formeel van twee aanklagte van moord aangekla.

Hy sal na verwagting Maandag in ’n hof verskyn.

Glen (63) en Vida (60) se liggame is op 30 Augustus vroegoggend buite hul plaashuis aangetref. Die egpaar is die vorige aand koelbloedig doodgeskiet nadat hulle van Newcastle tuisgekom het. Een van hulle honde is ook tydens die aanval doodgeskiet.

Die aanvallers het vroeër die veiligheidskameras buite die huis buite werking gestel.

Daar kon ná die moorde op ʼn veiligheidskamera wat die landelike paaie in die gebied monitor gesien word hoe die egpaar kort voor die moord uit die dorp in die rigting van hul plaas ry. Nie lank ná die moorde nie, kan weer gesien word hoe die moordenaars in hul voertuig op ʼn ander pad van die toneel vlug.

Volgens Naicker duur die ondersoek voort en nog inhegtenisnemings kan verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

FM ·

Geen in hegtenis neming, lewenslange tronkstraf, niks kan die verlies aan lewe herstel nie.

Hierdie moorde verwoes als.

Friedrich ·

As daar doodstraf was, sou hulle dalk versigtiger gewees het, maar ja….

ES ·

Ek wonder partykeer hoe dink hierdie moornenaars hul gaan nie gevang word nie, want in 90% van die gevalle word verdagtes aangekeer en gevang.

Dit wys maar net weereens dat tronkstraf nie ‘n afskrikmiddel is vir hulle nie.

Magda ·

Tronk toe – lewenslank tot hy sy laaste asem uitblaas – LEWENSLANK VERDIEN NIKS MINDER NIE

Jack ·

Tronk toe is soos om in n veiligheidsoord te bly. Hoender en tv elke dag en mediese versorging asook stemreg. N veilige hawe sou ek se. Miskien wil hulle in die tronk wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.