ATKV-Mediaveertjies 2020, wenners aanlyn bekendgemaak

Nic de Jager (Foto: rsg.co.za)

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se Mediaveertjie-toekennings word al vir langer as ʼn dekade aangebied. Dié geleentheid moes weens die Covid-19-pandemie vanjaar ʼn nuwe koers inslaan en is van 19 tot 21 Mei in drie aflewerings aanlyn bekendgemaak.

“Dit is noodsaaklik om die media te vereer, en vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – soveel te meer,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.

Brits het opnuut die kritieke rol beklemtoon wat die media in tye van krisisse en uitdagings speel.

“Dit is die media wat ons ingelig hou, ons opvoed oor alle aspekte, ook van onder meer die pandemie, nie slegs plaaslik nie, maar ook internasionaal; en wat vermaak, iets wat veral nou broodnodig is.”

Twee veteraan radio-aanbieders, Nic de Jager en Margot Luyt, is vir hul lewenslange bydraes tot die Afrikaanse radiobedryf vereer.

Margot Luyt (Foto: rsg.co.za)

De Jager word vir sy radioloopbaan van 50 jaar vereer.

“Ons vereer sy uitsonderlike talent in voordragte, radiohoorspele, nuus lees en aanbiedings, maar veral sy fenomenale kennis van opera, in Nic se goed, ʼn program wat Sondae om 12:00 op RSG uitgesaai word,” het die ATKV in ʼn verklaring gesê.

Luyt is sedert 1978 by die radio- en televisiebedryf betrokke. Sy word vereer vir die rol wat sy gespeel het in die voortbestaan en verbetering van dramas en vervolgverhale vir die radio, nie net as regisseur nie, maar ook met die opleiding wat sy deurgaans aan regisseurs en spelers verskaf het.

Toekennings word in drie kategorieë verdeel: Lees, Luister en Kyk. Hier is die volledige lys met wenners.

Wenners in die Luister-kategorie

Radio Sonder Grense (RSG) het in dié kategorie geseëvier. Die beoordelaars was Bettie Kemp, Margot Luyt, Willemien Marais, Dawid van Lill en Leon van Nierop. Hier is die wenners:

  • Joanie Combrink, regisseur van Man van Cirene op RSG
  • Elize Cawood vir haar voorlesing van Stralejakkers op RSG
  • Pietie Beyers vir sy vertolking in Blikslim op RSG
  • Kobus Burger, uitvoerende regisseur van drama by RSG
  • Lynette Francis, aanbieder van Praat saam op RSG
  • Frieda van den Heever, samesteller en regisseur van Voetsoldaat van die vers op RSG

Wenners in die Lees-kategorie

Die beoordelaars in hierdie kategorie was Joan Kruger, Carryn-Ann Nel, Elmari Rautenbach, Kirby van der Merwe en Herman Wasserman. Hier is die wenners:

  • Anneliese Burgess vir “’n Pad kronkel deur tyd en kom tot rus by ’n familiegraf op Koesberg” en “Plaasmoorde: Die skimme van geweld wat ons harte oopkloof” wat in Vrye Weekblad verskyn het
  • Nathan Trantraal vir verskeie artikels, meningstukke, essays en “Hyper byrie Food Lovers Market” wat in Rapport verskyn het
  • Marida Fitzpatrick vir “Vat hom, Bulldog” in Insig
  • Hannelie Booyens vir “Om te hoor jy’t Joost se siekte” in Insig
  • Dominique Botha vir “Gerugte van Rian” in Insig
  • Karin Brynard vir “Stil, broers, daar gaan ’n… man verby” in Insig
  • Willemien Brümmer vir “Plaasaanvalle: Die misdaad wat wit én swart laat bloei” wat op Netwerk24 verskyn het

Wenners in die Kyk-kategorie

KykNET het skoonskip in die Kyk-kategorie gemaak met Dwaalster en Die spreeus wat die meeste toekennings ontvang het.

Die beoordelaars in die aktueel-genre was Gielie Hoffman, Mariëtta Kruger, Crystal Orderson, Harald Pakendorf en Bettina Wyngaard. Hier is die wenners:

  • Lourensa Eckard as aanbieder van kykNET Verslag en kykNET In gesprek op kykNET
  • Kabous Meiring as aanbieder van Prontuit en Megaboere op kykNET
  • Berdene & Janhendrik Burger as vervaardigers van Edik van Nantes, seisoen 3 wat op kykNET&Kie uitgesaai is
  • Ivor Price as aanbieder van Landbouweekliks op VIA

Die Spreeus

Die beoordelaars in die verhaal-kategorie was Diane de Beer, Jeff Dirks-Korkee, Cornelia Faasen, Ilza Roggeband en Réney Warrington. Hier is die wenners:

  • Monique Rockman vir haar vertolking van die rol Beatrice Mack in Die spreeus op kykNET
  • Jorrie van der Walt as kinematograaf van Dwaalster én Die spreeus wat op kykNET uitgesaai is
  • Carla Smith vir haar rol as Kitty in Tydelik terminaal op kykNET
  • Rocco Pool vir produksie- en stelontwerp vir Dwaalster én Die spreeus op kykNET
  • Erica Wessels vir haar rol as Ragel-Lee in Dwaalster op kykNET
  • Chris Vorster vir sy vertolking van Bas Koorts in Die spreeus op kykNET
  • Albert Maritz vir sy spel as Frans Loots in Dwaalster op kykNET
  • Tarryn Wyngaard vir haar rol as Gina Devine in Dwaalster op kykNET
  • Anna-Mart van der Merwe vir haar vertolking van Julie in Tydelik terminaal op kykNET
  • Lea Vivier vir haar rol as Lilani du Toit in Fynskrif 2 op kykNET
  • Pierre-Henri Wicomb vir die klankbane van Dwaalster én Die spreeus op kykNET

Brits het die geleentheid gebruik om aan te kondig dat die ATKV later vanjaar ’n spesiale toekenning vir uitsonderlike joernalistiek rakende die Covid-19-pandemie sal toeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.