Boek-uittreksel: ‘Niks romanties aan emigrasie’, Stephan Joubert

Hier volg ’n uittreksel uit Emigreer of bly: Is die gras werklik groener aan die ander kant? deur Stephan Joubert.

***

Dit is nie romanties nie – emigrasie, bedoel ek

“It occurred to me that no matter where I lived, geography could not save me” – Isabel Wilkerson.

Tussen 2007 en 2017 was ek ’n navorsingsgenoot aan die Radboud-Universiteit in Nijmegen, Nederland. My eertydse kollega en vriend by Tuks, Jan van der Watt, was in hierdie tyd professor in teologie in Nederland. Hy het my deeltyds daar aangestel om saam met hom ʼn doktorale program te behartig, hoofsaaklik vir studente uit Suid-Afrika. Dit het beteken ek en my vrou moes elke jaar vir minstens een maand in Nederland gaan woon en werk. Hierdie tyd in Europa het my horisonne op die lewe in Suid-Afrika en in die buiteland heelwat verbreed. En, as ek dit kan waag om te sê, dit het ʼn groter soberheid en ʼn rustigheid in my gemoed gebring oor baie vrae en dinge wat met die ry-of-bly-vraag verband hou.

Een van die groot kwessies wat daar in Nederland uit my gemoed verdwyn het, is die idee dat dit romanties is om in ʼn Eerstewêreldland te bly. Alles daar werk, ja, maar alles wat werk, motiveer jou nie juis meer ná ’n maand of twee nie – veral nie as dit begin lyk of almal daar volgens vaste programme en onbuigsame reëls werk nie. Soms het dit regtig vir my gevoel baie Europeërs is self vooraf geprogrammeer. En dat alle verhoudings op ʼn gereguleerde manier bestuur word. Spontaneïteit in die Eerstewêreld is maar skaars. Verbrands, jy kan nie eens ongenooid by vriende of familie opdaag nie! ʼn Kennis van my se dogter, wat met ʼn  Hollander getroud is, het dit eenkeer gewaag om ongenooid by haar skoonma se huis aan te kom. Sy moes hoor dat dit nie nou geleë is nie, en dat sy in die toekoms betyds ʼn afspraak moet maak om sulke netelige situasies te vermy.

Ek self het eendag op die ingewing van die oomblik gaan aanklop by my kollega in Duitsland toe ons ʼn jaar lank daar gebly het. Hy het my vriendelik ontvang, maar ek is ook hoflik herinner dat ek nie ʼn afspraak met hom gehad het nie. Dan was daar ook die keer toe ons wel ʼn afspraak met ʼn Europese kollega gehad en ʼn volle vyf minute te vroeg by sy huis opgedaag het. Hy het ietwat gesteurd na sy horlosie gekyk en vir ons gesê ons is te vroeg. Regtig? Ek weet hierdie dinge is nie die einde van die wêreld nie, maar ná agt jaar se gereelde verblyf in Nederland en ná 15 maande se verblyf in Duitsland weet ek daar geld ander sosiale reëls en gebruike as hier in Suid-Afrika.

Die mense in Europa en ander Eerstewêreldlande is regtig nie net Afrikaanse mense in ʼn vermomming wat toevallig Duits, Hollands of verskillende vorme van Engels praat nie. Vir my is die lewensgrootte verskil tussen daar en hier die verskil tussen spontane verhoudings en warm gasvryheid, en afstandelike verhoudings. Maar nou ja, dit is net my persepsie.

Stephan Joubert (Foto: nb.co.za)

Nogtans is ek baie lief vir Nederland en Duitsland. Ek is deesdae egter meer realisties wanneer ek daar kom. Ek het geleer! Ek het geleer ek moenie ander mense in my boksies probeer indruk nie. Anders gaan ek altyd ongelukkig wees wanneer ek daar is. Dan gaan ek mense meet aan my verwagtings. Ek moes regtig op pynlike en minder pynlike maniere leer dat verskillende kulture verskillend dink en optree.

My skoonseun, Pierre Engelbrecht, het ʼn paar jaar gelede daar by ons in Nijmegen gebly en met sy nagraadse studie begin. In ʼn stadium is hy ʼn assistentpos daar aangebied. Dit sou beteken dat hulle ʼn paar jaar in Nederland moes gaan woon. Aanvanklik was hy en my dogter, Tarien, baie opgewonde hieroor. Toere en kunsmuseums was dadelik op hul radarskerm. Maar toe tref die werklikheid hulle. Pierre het bereken wat die lewenskoste in Europa is en besef hulle sou ver buite die stad moes gaan bly net om ʼn dak oor hul koppe te kon bekostig. Boonop sou daar bitter min geld aan die einde van elke maand oorbly vir toere en museums. Toe besluit hulle dat dit nie romanties genoeg is nie.

Ek het by my kinders en ander mense geleer dat dit lekker is om idealisties te wees, om met droombeelde oor ander plekke rond te speel. Tog is daar ook iets soos die doodgewone werklikhede van elke dag. Hiermee moet ons altyd rekening hou, waar ons ook al bly. Doodnormale uitdagings is oral in die wêreld ʼn werklikheid. Boonop kos dit baie geld om elders te gaan bly. As jy dit nie het nie, gaan enige emigrasie spoedig in ’n uitgerekte nagmerrie van armoede, bitterheid en spyt ontaard.

***

Oor die boek

Moet ek hier bly of is dit dalk beter om te emigreer? Wat is die Here se wil vir my? Vir Suid-Afrika? Vir my ín Suid-Afrika?

Dít is vrae waarmee menige Suid-Afrikaner worstel. Joubert bekyk hierdie netelige kwessie van albei kante. Hy skets die werklikhede van emigrasie, maar ook die werklikheid van bly. Hy betrek ook ander stemme – blyers of ryers – om lesers toe te rus om ʼn sinvolle besluit te neem.

Oor die skrywer

Joubert is ʼn teoloog, bekroonde skrywer, prediker en ʼn gesinsman. Hy is hoof van ekerk en buitengewone professor aan verskeie universiteite. Joubert skryf saam met Jan van der Watt rubrieke in Beeld en JUIG! Die Boodskap. Hy het al meer as 55 boeke uitgegee en meer as 200 000 eksemplare is verkoop.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Human ·

Die probleem met hulle, is dat hul dink, hulle se gatte stink nie of dalk selfgekoesterde belangrikheidsindroom.

Jax ·

Sjoe dit som baie van my gedagtes oor my verblyf van 12 jaar in Nederland 100% op! Met dit wat ek nou weet, sou ek nie weer oorgaan as kennis-immigrant nie. Ja, ek het baie geleer van n ander kultuur, n nuwe taal aangeleer en plekke gesien wat ek dalk nie anders sou gesien het nie maaaaaar dit het teen n baie hoë koste gekom. Ek het my ouers dit ontneem om met hul kleinkinders saam te groei en my kinders dit ontneem om hulle groot-ouers te leer ken asook ooms en tannies. Alles is oor Skype gedoen – te duur om terug te vlieg. Ag ek kan aangaan oor swak dokters en skoolstelsel wat net in n kind belangstel wat uiters begaafd is. Vriende is daar nie. Jy is “vriende” met mense want jy het nie n ander keuse. Nederlandse opregte vriende het jy nie. Die enigste positiewe wat ek geleer het van oor die 12 jaar daar bly was; ek is gebore en het groot geword in die mooiste land op aarde met mense met die mooiste harte. Ek is al oor die 11 jaar terug in SA en is dolgelukkig hier! Ek bly net hier!

Zietsie ·

Ons woon al vanaf 1997 in Nederland. Ons het toe al geweet die gras is nie groener in Europa nie en Europa is ook nie meer romanties as Suid Afrika nie. Ons het ons familie en vriende agter gelaat en ons woning met swembad en tennisbaan. Ons het ook geweet dat ons nie so luuks sal lewe soos in Suid Afrika nie. Maar, ons dogters het soggens om 4 uur na huis gefiets . Hulle het saans buite in die straat gespeel. Ons slaap rustig en kyk nie voortdurend oor ons skouers nie. Albei het nou een goeie werk in die Randstad.
Ons mis ons mense in Suid Afrika en gaan nog een keer per jaar daar met vakantie. Ons verlang elke dag na Suid Afrika. Ons moet ons altyd herinner waarom ons Suid Afrika verlaat het- nie vir die luukse lewe in Nederand nie.
Die gras is seker nie groener in Nederland nie .

Pofadder ·

Die artikel probeer baie hard om Europeers as ongasvry uit te beeld, en Suid Afrikaners die teenoorgestelde. Die realiteit is dat, met tyd, altwee verander het. Wees eerlik, mens daag gewoonlik ook nie net op by vriende in SA nie. Hierdie artikel is ‘n geforseerde, onsuksesvolle argument.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.