Boek van die maand: ‘Die onsigbare pou’ deur Zirk van den Berg

Ná die wegholsukses wat Zirk van den Berg in 2019 met Ek wens, ek wens gehad het – dié grootmenssprokie het die WA Hofmeyr-prys, die kykNET/Rapport-prys vir fiksie en die kykNET/Rapport-prys vir die beste verfilmbare boek verower – het sy sewende boek (in Afrikaans) in tien jaar onlangs verskyn: Die onsigbare pou, uitgegee deur Kwela. Tussen Ek wens, ek wens en Die onsigbare pou lê ook Tweegevreet (2020) en Een of ander held (2021) wat saam met Die vertes in (2018) die Siegfried Bock-trilogie vorm.

Hoewel Van den Berg die afgelope 24 jaar in Nieu-Seeland woon en werk, is dit weer die Suider-Afrikaanse landskap (die trilogie het Namibië in die oog) waarheen hy terugkeer om die verhaal te plaas. In sy jongste roman, ʼn “Bellville-bromance” word dit op die voorblad genoem, is Bellville wel die vertrekpunt, maar word die ganse land as’t ware die verhoog waar Ober, die rockster-held van die verhaal, optree. Saam met sy band in ʼn kombi toer hulle die land vol en besoek hulle “elke dorp, stad en burg; elke fontein, bron, spruit, stroom, strand en baai; elke dam, drif of dal; elke berg, rant, kop, kloof en poort; elke hoek, kraal en fort”.

Aan die woord is Sybrand de Waal (Sybie), jare lange boesemvriend en agent van die fiktiewe karakter George Oberholzer wat as Ober die Afrikaanse musiektoneel in die 1980’s verower het. Sybie is die eerstepersoonverteller wat Ober se lewensloop (en daarmee saam sy eie) as “ʼn plakboek van woorde” aanbied nadat ʼn uitgewer hom gevra het om ʼn boek oor Ober te skryf. “Dis nie daai boek dié nie,” begin Sybie sy verhaal in sy “Voorwoord”.

Ober is “aantreklik, talentvol, eiesoortig… hy vra nie verskoning vir wat hy doen of wie hy is nie” – wat ooglopend pou-kwaliteite sou kon wees. Dit is alles eienskappe wat Sybie nie het nie, en wat hom as’t ware onsigbaar sou kon maak. Hy beskryf homself immers as “die vaal figuur op die agtergrond wat rondskarrel om op te ruim”. Dat Ober ʼn “onsigbare” kant het, noem dit dan fasette wat nie so in die openbare oog uitstaan nie, blyk vroeg reeds in die verhaal (dalk so ver terug as die verwysing na Ober, toe nog George, se tweelingbroer). As agent is dit Sybie se werk (wat sy eie lewe heeltemal in beslag neem) om die sigbare én onsigbare kant van die pou sigbaar én onsigbaar te hou. En dan om op te ruim.

Die boek word op die agterblad beskryf as “ʼn verhaal van ambisie en kreatiwiteit, roem en anonimiteit, vriendskap en verraad”, maar dit is ook ʼn noukeurige verkenning van die teëkant van “die romantiek van maanskyn en rose”, wat gewoon “die deksel en bodem van dieselfde tjoklitboks” is (69). Met dié dat dit Sybie se weergawe, sý plakboek van woorde, is wat aan die orde kom, raak ʼn mens bewus van sy eie woordvaardighede. Van den Berg gee aan hom ʼn stem wat spreek van insig en kreatiwiteit wat ʼn mens laat dink dat hy, uitgesonder die verhoogpersoonlikheid, eintlik die ware kunstenaar in die roman is. Nietemin is en bly Sybie bewus van sy gebreke en vul “die vermoë om so één met ander te kan word” hom selfs met jaloesie: “Ek kry dit nie eens reg wanneer ek broekloos op ʼn vrou lê en die hemel moon nie,” (70) moet hy toegee.

Meer populêr as popmusiek as ʼn onderwerp vir ʼn boek kan ʼn mens kwalik kry, en dié onderwerp beheers Van den Berg met dié soort vakmanskap wat ʼn mens al meermale by hom teëgekom het. In ʼn onlangse aanlyn onderhoud het hy verwys na die soort boek wat hy graag sou wou skryf as ʼn Pete Townshend- of Van Morrison-plaat, “wat binne die populêre milieu werk, maar wat iets van blywende waarde skep binne ʼn populêre konteks”. Miskien het Van den Berg juis dít reggekry met Die onsigbare pou – ʼn roman wat vermaak, goed en wel, maar wat heelwat meer om die lyf het as nét populêre vermaak.

Zirk van den Berg, Die onsigbare pou (2022). Kwela. R267

  • Klik hier vir ‘n volledige onderhoud met Zirk van den Berg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.