Boek van die maand: Prooi deur Deon Meyer

Dit gebeur nou maar een maal nie elke dag dat ʼn vooraanstaande Britse boekwinkel soos Waterstone’s ʼn Afrikaanse titel groot en kleurvol aanlyn bemark nie. Voeg daarby dat Deon Meyer se Prooi kort voor Kersfees op Swart Vrydag die populêrste boek op die aanlyn inkopieplatform Takealot was.

Dit is eintlik voor die handliggend waarom dié nuwe roman, Meyer se 16de sedert sy debuut in 1994, soveel aandag trek. Nie net omdat hy so onderhoudend skryf nie, maar omdat die politieke intriges van die oomblik so ʼn integrale deel van die verhaal uitmaak.

Soos geoefende skrywers nou maar een maal is, het Meyer die vermoë of ontwikkelde sintuig om sy lesers een tree vooruit te bly. Hierin slaag hy uitermate goed in Prooi, ʼn boek waarin hy naby seil aan die huidige warmpatat: staatskaping. Hou in gedagte dat die manuskrip van die boek afgehandel is voordat Cyril Ramaphosa president geword het, en dat die boek op die rak was voor die onlangse opspraakwekkende getuienis voor die Zondo-kommissie.

Daarby kom ook nog die groeiende bewussyn dat alles in die nuwe demokratiese bestel nie so gaaf is nie. Nie in die staat nie, nie in die polisie nie en dalk ook nie in die land se elite polisie-eenheid nie.

En so is daar kwalik iemand beter as kaptein Bennie Griessel en sy mede-Valk-speurder Vaughn Cupido om agter die kap van die byl te kom in ʼn moordsaak wat met die verloop van tyd ʼn sekere tamheid gekry het waarvoor nóg Griessel nóg Cupido uitermate lus het.

Van Griessel het ʼn mens in 2015 laas gehoor in die vyfde Bennie Griessel-boek, Ikarus. Toe het hy weer aan die drink gegaan en is met posttraumatiesestres-afwyking gediagnoseer.

Nou, ʼn paar jaar later, kom Griessel voor nuwe uitdagings te staan. Nie net in sy werksomstandighede nie, maar ook in sy persoonlike lewe. Maar dié moet die leser liefs selfs ontdek.

Dit is altyd ʼn kwessie om oor ʼn boek te skryf sonder om voornemende lesers se pret te bederf. Maar bes moontlik steur toegewyde Meyer-lesers hulle nie eens aan resensies oor sy boeke nie. Gewoon omdat hulle nie nodig het dat iemand hulle moet por om Meyer te lees nie.

Prooi begin met die verhaal van die moord op ene Johnson Johnson wat anderkant Drie Susters in die Karoo van die luukse Rovos Rail gesmyt is en op dié manier aan sy einde gekom het. Of so lyk dit altans. Dit is kapteins Griessel en Cupido wat die saak moet ondersoek, een waarteen hulle opsien omdat dit weke tevore gebeur het. Boonop weet dié twee helde die plaaslike polisie was onnoukeurig in die ondersoek van die saak. Wat alles net soveel te meer kompliseer.

Maar dan is daar ʼn parallelle verhaal in die Noordelike Halfrond – dié van ene Daniel Darret wat hom in Bordeaux in Frankryk gevestig het, ʼn man met talle geheime wie se onverwante verhaal gaandeweg ontvou. Nietemin weet ʼn mens daar moet ʼn raakvlak tussen die twee verhaallyne wees. Maar wat!

Dit is die spanning onderliggend aan dié verhale wat die lokaas is wat die leser inkatrol. Dit is die suspisie wat Meyer by die leser wakker maak wat dit so moeilik maak om die boek neer te sit. Boonop is dit die deernis met sy karakters wat ʼn mens so van hulle laat hou, huidjie en muitjie.

Meesterstorieverteller wat hy is, het Meyer die vermoë om ʼn omgewing of omstandighede te versin waarmee die leser waarskynlik glad nie vertroud is nie. Soos die omgewing van Bordeaux wat Meyer só beskryf dat jy die gevoel van die plek kan kry; en só noukeurig dat jy as’t ware op Google Maps elke tree saam met Darret kan gee.

Waarom is Meyer se ʼn suksesvolle skrywer? In die eerste plek omdat hy ʼn briljante storieverteller is. Boonop kom hy só oortuigend onder die vel van sy karakters (veral die speurder-duo) in en beeld hy hulle uit as mense wat jy eintlik voel jy ken. En les bes omdat hy weet om spanning subtiel te hanteer.

Dit is dieselfde soort noukeurigheid waarmee hy onder meer vliegtuie en helikopters in Koors, sy vorige roman, beskryf het, wat die leser ʼn gevoel van geborgenheid gee – een van: hier is ʼn skrywer wat jy kan vertrou aan die woord. Wat die leeservaring des te meer aangenaam maak.

Durf die 452 bladsye aan! Dit is heerlike (ont)spanningsleesstof.

  • Deon Meyer se Prooi is uitgegee deur Human & Rousseau en kos R299. Die werktitel vir die Engelse vertaling wat later vanjaar verskyn is “The Last Hunt”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ilze ·

Ek het al sy boeke gelees. Dankie tog vir ‘n nuwe boek. Daar is nie ‘n beter skrywer as hy nie,

Charles ·

En wat dink jy van sy AAKLIGE taalgemengery- DIT, is NIE kuns nie, en nog MINDER AFRIKAANS- daarom WEIER ek om sy boeke te lees.

Tino ·

Ek het die boek se opbou geniet maar die einde was baie teleurstellend en kort af geknip. Dit kon die perfekte opbou gewees het na ‘n volgende boek soortgelyk aan Koors. Kom nou Deon…

Charles ·

Ongelukkig skemer Mnr Meyer se politiese korrektheid deur in sy boeke, en hang sy liberale onderrok ver uit; en daarom verkies ek om nie sy boeke te lees nie, en ek is glad NIE spyt daaroor nie.
Daar is veel meer te kies en te keur in ons moedertaal, van ‘n meer gevorderde, weldeurdagte en intellektuele aard.

A Kellerman ·

Mnr Meyer het ook sy gewig ingegooi teen Afrikaans op Stellenbosch.

Hoekom Afrikaners nog sy boeke lees is n raaisel

A Kellerman ·

Mnr Meyer het sy gewig agter Engels ten koste van Afrikaans op Stellenbosch ingegooi.Tog lees Afrikaners nog sy boeke.Verstommend!

At Dippenaar ·

‘Prooi’ was my kersgeskenk van my predikantspaar. Deon Meyer word nie verniet gehuldig as die gewildste skrywer in Afrikaans nie (‘n titel wat ek voel hy met Chris Karsten behoort te deel). Lees mens Prooi gee Meyer deurentyd klein “wenke” oor dinge wat later deurslaggewend in die uiteindelike ontplooiing van die verhaal is. Een so “wenk” is ‘n Okapimes en biltong met koljandersade op die Rovos Railtrein….
Besig om die boek ‘n tweede keer te lees.

Geronimo ·

Ek dink nie die boek is besonders nie – ongeloofwaardig, flou tema, swak Afrikaans en stomp einde. Mors van tyd en geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.