Boek van die maand: ‘Roman’ deur Cas Wepener

“As jy klippers in dié deel van die wêreld omrol, dan hardloop daar sommer gou gevaarlike goete soos skerpioene oor die vlaktes of ʼn roman wat jou jaag om in jou skaduwee te kom.”

Aan die woord is Willem Marsman, petroljoggie by die Engen-garage op ʼn dorpie in die Klein-Karoo wat nie by die naam genoem word nie. Marsman word aan die leser voorgestel as iemand wat gereeld “helder oomblikke” beleef (8) – soos dat “dit waarna jy soek, later jóú spoor kan sny” (9).

Dié gedagte kom by Marsman op by sy eerste kennismaking met Danie Gouws, die man met die wit Corolla met Stellenbosch-nommerplate wat die roete na ʼn gastehuis op die dorp vra, maar wat, so weet almal op die dorp reeds, navorsing kom doen oor kulturele gebruike en erfgoed in die omgewing.

Hoewel Marsman met Gouws se ondersoek (as ʼn vorm van “klippers omrol”) ʼn harige spinnekop wat jou jaag in gedagte het, aktiveer Cas Wepener vroeg in sy Roman reeds die verwysing na fiksie en spesifiek die roman “wat jou jaag om in jou skaduwee te kom”. Die een storie wat Gouws nie gaan soek het nie, maar wat hy wel teëkom (en wat hom as’t ware inwag), is dié van Gert Swanepoel, die man wat in die Attakwas op die plaas Rietfontein geboer het, en in die 1860’s die laaste man was wat in die openbaar op George gehang is.

Van dié historiese gegewe maak Wepener gebruik, hoewel Swanepoel se storie, soos die waarheid, nie van lig hou nie – soos “Solifugae”, die wetenskaplike naam vir spinnekoppe wat sku is vir son, en wat baardskeerders en rooiromanne insluit. Gaandeweg word dié storie, anders as die akademiese boek wat op feite sou berus wat Gouws vir die departement by die universiteit beplan het, die web wat hy ontrafel. Sy leidster in dié onderneming is dat stories interpretasies is, fiksie; fiksie in sin dat dit iets is wat gemáák is.

Hoewel Gouws wyd en syd navorsing begin doen oor Swanepoel (onder meer in argiewe), en met mense van die omgewing praat en hulle “inheemse kennissisteme” in berekening bring, is en bly sy arbeid geskoei op stories, en die opskryf daarvan ʼn vorm van brandmerk (47). En so word “daai moordenaar se storie soos ʼn cowboy paperback waarmee hulle kan brag”, “die classic wat alles hier rond opgefoeter het…  ʼn love story gone wrong” (82), “ʼn forbidden love story” (86).

Wie ʼn verhaal vertel bepaal uiteraard die uitkoms (en die gesag) van die storie. Wat Wepener doen is om subtiel te torring aan waarheid, of gewaande waarheid, en oorlewering. Selfs die vastigheid van die plaas se naam, Rietfontein, word op losse skroewe geplaas met behulp van die aanhaling van ID du Plessis se gedig as motto voor in die boek.

In plaas daarvan om ʼn afdoende verhaal te beskryf van wat nou presies in die jare ná die Swarte Ommegang in die Attakwas gebeur het (Wepener verwys na “talle stories oor Swanepoel” wat deur die jare die lig gesien het), is Wepener bereid om tot drie weergawes van spesifieke gebeure te gee. Die waarheid lê immers tussenin.

Dat hy nie ʼn historiese roman in gedagte het nie, staan vas. Eerder ʼn bevraagtekening van opperste historisiteit. En finale feite. Waarvoor die roman by uitstek ʼn gawe medium is. En so hanteer Wepener die roman ook – as ʼn kunsvorm wat nie inligting wil gee of vaslê nie, maar eerder lig werp op wie en wat die mens is.

Soos in Die slaghuis, Wepener se roman van 2019, kom die mens se inherente sug na mag en die inspan van geweld weer aan die orde – ook die venynigste vorms daarvan, wat ʼn merk op ʼn wang kan laat…

Soos die geval met Die slaghuis, is dit weer een van Willem Pretorius se skilderye wat op die voorblad pryk. En wat bydra tot die visualisering van die kleindorpse ruimte waarin die verhale ten dele geplaas word.

Daarby is Wepener se verteltrant besonder filmies, veral met betrekking tot die manier waarop hy sy lens opstel, in- en uit-zoem, wegsny na ʼn volgende tafereel, of die een organies na die volgende laat vloei. Wat verder opval is die bindingsmotiewe wat Wepener gebruik om sy verhaal tot ʼn hegte eenheid te snoer – byvoorbeeld die verwysing na “stroppe/strop” aan die begin en weer aan die einde van die roman. Nog ʼn voorbeeld sou kon wees die terloopse verwysings na voëls (laksman, kraaie, janfiskaal) wat op ʼn onderliggende spanning of onheil sou kon dui.

  • Cas Wepener se Roman word uitgegee deur Protea. Die boek kos R295.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.