Boek van die maand: ‘Tweegevreet’ deur Zirk van den Berg

Die laaste deel in Zirk van den Berg se Siegfried Bock-trilogie het pas (as Een of ander held, 2021) verskyn, maar dié bespreking het die tweede boek in dié drieluik, Tweegevreet (2020), in die oog. Spoedig kom die derde boek ook as “Boek van die maand” aan die bod.

In Die vertes in (2018), die eerste van dié historiese romans wat vroeg in die 20ste eeu in die destydse Duits-Suidwes-Afrika afspeel, het lesers die bleeksiel Siegfried Bock teëgekom. In dié roman is hy geteken as petieterig, hy was as kind elke winter siek en het teen alle verwagting in militêre keuring geslaag.

Ná ʼn paar jaar in dié Duitse protektoraat het einste Bock sy beteuterdheid kon afskud en sy sit gekry as ruiter. Trouens, hy geniet die gevoel in sy beenspiere terwyl hy sy gewig in pas met die perd se beweging dra, lees ʼn mens. “Die plesier van fisieke inspanning is iets wat hy eers hier in Afrika ontdek het. Ander kom om berge, watervalle, eksotiese stamme en goud te verken – hy het nuwe aspekte van homself ontdek” (82).

Meer as die fisieke sluit Bock se ontdekkingstog ook ʼn herwaardering in van die Duitse stadswêreld waarin hy grootgeword het, én die taksering van mense in daardie bestel. “Die idee dat sekere mense uiteraard minderwaardig is, het vir hom problematies geword; in hierdie land het hy al te veel slegte gedrag by die sogenaamde meerderes gesien” (30).

Die duidelikste manifestasie van dié bewustheid wat gaandeweg gedy, kom ʼn mens teë in Bock se gesprek met die ietwat fel kritiese fraülein Isa Viitanen, dogter van die Finse sendeling: “Ek is net bereid om verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat ek kan beheer … Ek weier om skuld vir my ras te aanvaar, net soos wat ek nie andere op grond van hulle ras beoordeel nie” (123,124).

Rasseverhouding en meerderwaardigheid én daarmee saam vriendskapverhoudings (en ʼn huwelik) oor die vooropgestelde grense heen is een van die drade wat Van den Berg in dié verhaal vleg. Soos in Die vertes in pluk-pluk Van den Berg versigtig aan dié web wat koloniale magte en bemagtigdes gespin het om hul vermeende orde te handhaaf. Vergelyk die vriendskap wat ontstaan tussen Lisbeth en Eva en die verhouding tussen herr Feinauer en Mesuvere, ʼn vrou van Otjimbingwe.

Soos Jeanette Ferreira op die voorblad van Tweegevreet opmerk, ontkom niks en niemand aan Van den Berg se “genadelose soeklig op die dubbele aard van die mens nie: die weerlose en die brutale”. En so dui die titel ook reeds iets van dié dubbele aard aan.

Ten diepste is Tweegevreet ʼn misdaadverhaal en hoewel ʼn mens agter die intrige en waarskynlik die opklaring van tergende vrae (wie is die skuldige?) aan lees, is dit die karakterbeelding wat jou bybly. Karakters soos Stempsky en feldwebel Dudeck, Bock se twee kollegas aan diens by die polisiestasie op Hochnabib, verbeeld met ʼn vleug eerder as met ʼn oorvloed woorde; of die skilder Niedermeyer met die oog wat gevoelig kan kyk, maar ook net raaksien wat hy wíl raaksien.

Ondanks die samehangende geheel wat die drie boeke vorm, kan Tweegevreet sonder twyfel op sy eie gelees word.

Tweegevreet is Van den Berg se vyfde roman. Ná sy kortverhaaldebuut van 1989, Ekstra dun vir meer gevoel, het Wydsbeen, sy eerste roman, in 1992 verskyn. Daarna het ʼn Ander mens in 2013 verskyn, ʼn vertaling van sy misdaadroman van 2004, Nobody Dies. Halfpad een ding het in 2014 verskyn en is soos Wydsbeen ʼn historiese roman – Wydsbeen oor ʼn Franse fortuinsoeker wat in 1734 in die Kaap aangekom het as soldaat in diens van die Oos-Indiese Kompanjie en Halfpad een ding ʼn storie oor die Anglo-Boereoorlog.

Dié boek het in 2014 die kykNET-Rapportprys in die rolprentkategorie verower, op sigself aanduiding van Van den Berg se filmiese benadering om ʼn verhaal te vertel. In Die vertes in en Tweegevreet sit hy hierdie werkwyse voort. Sy beskrywings word terstond prente in die leser se kop, en sy karakters word mense wat jy dalk al teëgekom het.

Zirk van den Berg se Tweegevreet is uitgegee deur Kwela en kos R290. Skaf dit aan by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.