Boekresensie: Bot

In ʼn tyd waarin die grense tussen genres al meer vervaag en afbakenings soos wetenskap- en spekulatiewe fiksie nie meer soseer op toekomsmusiek dui nie – die toekoms is dalk heelwat nader as wat ʼn mens sou kon vermoed – debuteer Carien Smith met Bot, ʼn bundel met 16 kort verhale wat iets registreer van die verhale waarmee Jan Rabie 70 jaar gelede in Een-en-twintig surrealisme vir lesers in Afrikaans oopgesluit het.

Wat in die 1950’s surreëel sou kon wees, juis vanweë die fantastiese, grillige of onwerklike aard van die uitbeelding, het in die 2020’s al minder die gedaante van fantasie, dit is meer werklik, maar dalk nie minder grillig nie. Ontstellend dalk meer as grillig (en “unpleasant”, soos Smith David Benatar aandui in ʼn motto: “In being able to experience, sentient beings are able to, and do, experience unpleasantness”). Moontlik juis omdat grense so vaag word. En nie die minste nie, die grense tussen waarheid en onwaarheid. Des te meer so in ʼn tyd van fopnuus en waninligting en -voorstellings.

Een van die leidende temas in Smith se verhale is die gedagte “alles is ʼn leuen… niks is ʼn leuen nie”. Nêrens kom dié kwessie so aan die orde nie soos in “Fel”, die verhaal wat gaan oor ʼn Waarheid-en-versoeningskommissie 50 jaar ná die WVK – weer oor basiese menseregte, maar hierdie keer oor hulpbronne, oor kos en water, en bowenal oor “die verdeeldheid tussen die rykes en die armes, die regering en die mense, die wat konneksies en toegang tot hulpbronne gehad het en die wat dit nie gehad het nie” (79).

In die tyd van ʼn globale katastrofe (soos klimaatsverandering) is “die waarheid nie universeel nie” (81), skryf Smith. Dalk was waarheid (soos met die WVK) nog nooit universeel nie, maar in dié distopiese omstandighede van natuurrampe en die uitwissing ná die Derde Wêreldoorlog dan allermins. Wat egter in dié omstandighede uitstaan – of sommige van die getuies nou voor die kommissie verskyn in “ʼn swart pakkie wat uit chiffon gemaak is” of  in “verflenterde klere… vuil… bruin… kaalvoet” – is dat daar steeds ʼn mate van hoop is. Al kom die hoop van buite, via ʼn radio-uitsending (omdat die internet reeds in duie gestort het).

Die wêreld wat Smith vir haar lesers voorstel is herkenbaar – dié van selfsug en die veer van die eie nes (“Laemens”), dié van suurstofdiewe in talle gedaantes (“O2”) en die aspirasie om “miljoene views” op sosiale media te hê (“Die agentskap”), om maar ʼn paar te noem. Met al die aanduidings wat daar reeds in ons wêreld is van post-menslike bestaan, is die insluiting van klone en simulante en robotte nie vergesog nie. Selfs gemanipuleerde diere wat in oorlogvoering gebruik kan word of diere wat geneties só gemanipuleer is dat hulle vleis kan lewer sonder dat hulle doodgemaak word, is dalk net ʼn klein sprongetjie die toekoms in. Niks is haas meer heeltemal onmoontlik nie.

Dat dié ontluikende wêreld wat tegelyk ook verstompend is wat in Bot aan die orde kom ontstellend is, bring ʼn mens weer by die verwysing na “unpleasant” – en die onwillekeurige tas na jou bors waar jy vermoed jou hart (as setel van ware gevoel) behoort te sit. Iets van: Solank ek (ongemak) ervaar, is ek nog ʼn mens. Dalk.

Wat my wel aan die wonder het, spesifiek oor alles wat ʼn leuen is, is besonderhede wat nie klop nie. Logiese gegewe soos dat Killarney nie (soos Saxonwold) groot huise het nie, of dat die Oos-Londense stadsaal ook onder water behoort te wees as die see opgestoot het hoog teen die Beaconbaai-koppie waar eens huise was. Of dat Greta Thunberg teen 2046 kwalik meer “daardie Thunberg-meisie” sal wees.

Carien Smith se Bot sluit tematies aan by Alettie van den Heever se roman Stof (2018) en Willem Anker se Skepsel (2020).

Bot word uitgegee deur Tafelberg en kos R230.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.